Entertainment

Potchefstroom stasie is ‘n verlate herinnering aan wat dit lank terug was

Op 28 Julie 1987 het die Herald berig oor 441 mense wat die Potchefstroom Treinstasie beman.

Op 28 Julie 1987 het die Herald berig oor 441 mense wat die Potchefstroom Treinstasie beman.
Volgens die berig was die stasie in daardie stadium so besig dat daar daagliks tussen 96 en 125 treine deur Potchefstroom gereis het.
Die personeel het daagliks 297 kg pakkies ontvang en meer as 180 briewe.
Vandag staan die stasie stil. Daar kom nou en dan nog ‘n trein deur, maar ‘n mens sal byna nooit meer as twee persone op ‘n slag by die stasie sien nie (waarvan een in elk geval die sekuriteitswag is).Potchefstroom Treinstasie het verander van ‘n besige plek waar 441 mense moes werk, na ‘n verlate wit gebou langs die pad. Dié stasie is op 22 Januarie 1897 vir die eerste keer in gebruik geneem. Die eerste stasiegebou was uit hout en sink gebou, en in 1919 is dit gesloop om plek te maak vir die huidige gebou wat in ‘n Kaaps-Hollandse styl is.Voor die stasie staan ‘n ou lokomotief op sy kort gesnyde spoor. Die besluit om die lokomotief voor die stasie te vestig, is op 24 Februarie 1972 deur die stadsraad aan die tesourier voorgestel.Die klas 8A lokomotief is in 1902 gebou en is een van 40 stoomlokomotiewe van sy klas wat deur die Suid-Afrikaanse Spoorweë gebruik is, en is in 1971 uit die spoorweë se diens onttrek. Die lokomotief het destyds R9 264 gekos en het deur sy jare se diens sowat drie miljoen kilometer afgelê.
Die historiese lokomotief is amptelik op 28 Januarie 1976 aan die gemeenskap van Potchefstroom oorhandig, en pronk vandag nog in al sy glorie voor die stasie.

Die Potchefstroom Stasiegebou. Foto: Marianke Saayman
Die Potchefstroom Stasiegebou. Foto: Marianke Saayman

Alhoewel die Potchefstroom Treinstasie vandag soos ‘n verlate wonder lyk, word daar tog steeds trein gery.
Nicolene Smalman, nuusredakteur van die Laevelder in Nelspruit het onlangs die kans gehad om ‘n treinrit vanuit Potchefstroom na Kaapstad mee te maak om deel te neem aan die Two Oceans marathon. Sy vertel van haar ondervinding, wat ongelukkig nie so plesierig was soos wat dit 20 jaar gelede sou wees nie.
Volgens Smalman was die pryse goed, maar verder was haar en haar twee vriende se ervaring nie ‘n goeie een nie.Die trein waarmee hulle gery het, die Shosaloza Meyl (die ou Transkaroo) het hulle net toegelaat om elkeen een tas en een stuk handbagasie op die rit te neem.Hulle het Donderdag 24 Maart op die trein geklim en was veronderstel om die volgende dag om 15:00 in die Kaap te arriveer, maar het eers om 17:00 daar aangekom.
Smalman, haar twee vriende en ‘n ander dame van Potchefstroom het saam in ‘n 4-bed kompartement gewoon.“Die kompartemente is maar knap jong! Daar is twee banke onder met twee banke bo-op wat jy afslaan vir die beddens”. Verder sê sy dat die kompartemente baie vuil was. “Toe ek gaan sit, voel ek dis vol stof”.
Volgens Smalman word daar beddegoed verskaf, maar was daar nie genoeg kussings nie. “Die treinpersoneel het darem plan gemaak en vir ons komberse in kussingslope gesit maar dit was kliphard”. Smalman sê dat sy eerder op haar truie geslaap het.Daar was ook geen lopende water in hulle kompartement nie en hulle moes elke keer na ‘n ander een stap om die toilette te gebruik en hande te was.
“Dit was aaklig!” sê sy.
Gelukkig was die aandete volgens Smalman baie lekker en kon sy lekker slaap. “Daardie geskommel en klank van die trein is nogal gerusstellend”.
Volgens Smalman mag ‘n mens ook net die toilette gebruik het wanneer die trein loop, “en die trein stop op elke stasie!”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button