Entertainment

Gewilde komponis Adrian More wen 2018 Helgaard Steyn-prys

Een van die mees gesogte toekennings in kunskultuurkringe, die Helgaard Steyn-prys, is verlede week aan die gewilde Suid-Afrikaanse komponis, Adrian More, oorhandig

Een van die mees gesogte toekennings in kunskultuurkringe, die Helgaard Steyn-prys, is verlede week aan die gewilde Suid-Afrikaanse komponis, Adrian More, oorhandig.

Dié toekenning word aangebied as erkenning vir die bevordering van die Suid-Afrikaanse kunskultuur en is alombekend as een van die omvangrykste pryse op die plaaslike kunstoneel. Dit word sedert 1987 in ’n vierjaarlikse siklus toegeken, en roteer tussen die dissiplines van Afrikaanse letterkunde, komposisie, beeldhoukuns en skilderkuns.
Vanjaar word die prys aan ’n musiekkomposisie toegeken wat tussen 2014 en 2018 gekomponeer is en wat in dieselfde tydperk in die publiek uitgevoer, uitgesaai of opgeneem is.
Adrian Kevin More het hierdie toekenning op Donderdag 6 Desember op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit vir sy komposisie: Klavierkonsert No 1, wat hy in November 2014 voltooi het, ontvang.
Die komposisie bestaan uit drie bewegings wat verskeie kontrasterende temas insluit. Donker en geheimsinnig, wat in die tweede tema in ’n luim van scherzando uitloop.
Die ontwikkeling kombineer hierdie temas en bereik ’n cadenza wat crescendo tot by die terugkeer tot gevolg het. Dit het ’n oorgang na ’n tema van nostalgie en verlange en eindig dan swierig met ’n kombinasie van temas uit die vorige bewegings.
More het ’n roemryke komposisieloopbaan waaronder sy bekendste werke die kameropera, anti-Laius en dié Klavierkonsert No 1 insluit. Dié stukke is verskeie kere lewendig uitgevoer en is met staande toejuiging begroet.
Van links is Chris de Bruyn, Vincent Eastes, Adrian More, Martie van der Merwe en Daniel Selamolela.
Van links is Chris de Bruyn, Vincent Eastes, Adrian More, Martie van der Merwe en Daniel Selamolela.
More woon tans in Kaapstad waar hy as voltydse komponis aan ernstige en filmkomposisies werk. Hy het onder andere aan die Universiteit van Kaapstad en die Royal College of Music in Londen studeer waar hy by laasgenoemde instelling ’n meestersgraad in gevorderde komposisie, filmkomposisie, klavier en stem verwerf het.
Die Helgaard Steyn Trust het uit die boedel van dr. Johan Heinrich (Jan) Steyn (1902-1983) tot stand gekom. Die Trust is na dr. Steyn se vader, Helgaard Steyn, ‘n voormalige Lid van die Provinsiale Raad van Bloemfontein en die jongste broer van die laaste Republikeinse President van die Oranje-Vrystaat, Marthinus Theunis Steyn, vernoem.
Die toekenning word volgens bogenoemde boedelbepalings, om die beurt in Potchefstroom en Bloemfontein oorhandig.
Die beoordelaars vir 2018 was proff. Hannes Taljaard en Bertha Spies van die Skool vir Musiek en Konservatorium aan die Noordwes-Universiteit en dr. Jan Beukes van die Odeion Skool vir Musiek aan die Universiteit van die Vrystaat.
Vorige wenners van dié gesogte prys sluit in die komponis Peter Klatzow vir musiek, die kunstenaar Wim Botha vir visuele kuns en die skrywers Dan Sleigh en Willem Anker vir romankuns.
As ’n tikkie simboliek tot hierdie prys, ter waarde van R625 000, is dit in die Konservatorium van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus oorhandig.
Die geskiedkundige Pretorius Musiekateljee speel gasheer vir dié geleentheid waar Adrian More in die geskiedenisboeke opgeteken is. Dié ateljee bevat antieke meubels en waardevolle kunswerke wat deur die boedel van Francois Johannes Pretorius aan die Skool vir Musiek van die Noordwes-Universiteit bemaak is.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button