Kom ons gee geskenke van die siel
Gemeenskaplike liefde en waardes is iets wat ons as mense streef om uit te leef, maar om een of ander rede gaan daar juis so ‘n klokkie aan wanneer dit by Kersfees kom. My voorstel is dat in plaas daarvan om astronomiese pryse op Kersgeskenke vir geliefdes te spandeer, kan daar eerder geld uitgehou word …

Gemeenskaplike liefde en waardes is iets wat ons as mense streef om uit te leef, maar om een of ander rede gaan daar juis so ‘n klokkie aan wanneer dit by Kersfees kom.
My voorstel is dat in plaas daarvan om astronomiese pryse op Kersgeskenke vir geliefdes te spandeer, kan daar eerder geld uitgehou word om ander te bedien wat nie geliefdes het om die Kersseisoen mee deur te bring nie.
Ek voel die samelewing het so vasgevang geraak in die wêreld se Kerskultuur dat die hart van Kersfees misgekyk word. Daar is baie mense wat juis in die Kersseisoen alleen voel en nie die geleentheid het om samesyn te beleef nie.
Kom ons maak dit vir daardie mense draagliker en voorsien kos en klere vir die haweloses. Jy sal verbaas wees hoeveel geld jy eintlik het, wanneer jy dit op ander meer behoeftiges spandeer en nie selfsugtig jou geld vir eie gewin gebruik nie.
Ja, dit is belangrik om vir geliefdes liefde te betoon (maar is dit nodig om ‘n duur geskenk te wees?). Lê liefde nie juis in die dinge wat ‘n mens nie fisies kan sien nie, maar tog die wêreld vir ‘n mens beteken nie? Mededeelsaamheid, empatie en samesyn lê nie in die geskenk nie, maar in die geskenk wat jy as persoon vir iemand anders is.
Spandabelrigheid is iets wat juis nie met die beginsels van Christenskap saamgaan nie en ongelukkig het die wêreld Kersfees in ‘n groot koop ekspedisie verander. Ek voel egter dat Christene juis in hierdie tyd hulle visie verby die klokkies, tierlantyntjies en helder kleure moet neem en hulle hart vir hulle medemens oopmaak met geskenke wat vir ewig sal bly. Die grootste waarde lê in die geskenke wat in ons harte oorbly en ons vreugde bring. Daar is hoop in dit wat ons nie tasbaar kan sien nie, maar sekerlik in ons harte kan voel.



