Bekroonde fluitis bring musiek van oor die wêreld
Khanyisile Mthetwa, JPO-fluitis en die ontvanger van verskeie toekennings, lewer op 16 April 2019 ʼn opwindende program vir fluit en klavier by die NWU Skool vir Musiek.
Khanyisile Mthetwa, JPO-fluitis en die ontvanger van verskeie toekennings, lewer op 16 April 2019 ʼn opwindende program vir fluit en klavier by die NWU Skool vir Musiek.
Sy word begelei deur die pianis Peter Cartwright. Me. Mthetwa is die 2019-wenner van die Myrna Brown International Scholarship wat toegeken word deur die National Flute Association of America.
Sy sal in Augustus 2019 na Salt Lake City (Utah, VSA) reis om ʼn konsert van Suid-Afrikaanse werke te lewer tydens hierdie assosiasie se 47ste jaarlikse konvensie. Dit is die grootste byeenkoms van fluitspelers ter wêreld. Me. Mthetwa is ook uitgenooi om konserte in San Francisco, Chicago en Michigan te lewer tydens haar besoek aan die VSA. Sy ontvang in 2018 die Standerd Bank Ovasie Toekenning tesame met pianis Peter Cartwright.
Mnr. Cartwright tree in verskeie konsertsale in Suid-Afrika, die VSA, Botswana en Zimbabwe op. Hy tree ook op as solis saam met die Johannesburg Feesorkes, die Johannesburg Jeugorkes en die Gauteng Camerata. Hy lewer verskeie suksesvolle konserte tydens die Grahamstad Nasionale Kunstefees en was onlangs ʼn semi-finalis tydens die SAMRO Oorsese Beurskompetisie.
Kaartjies teen R100/R70 is beskikbaar by die Konservatorium in Thabo Mbeki-weg (tel. 018-299-1692), PUK-Kunste in die Heimatgebou (F9) op die universiteitskampus (tel. 018-299-2844), Protea Boekwinkel op die Bult (tel. 018-297-1583), aanlyn by www.artema.co.za en www.facebook.com/NWU.Music, of 30 minute voor die konsert by die loket.




