Elvis Blue tree op by Snowflake
Bekroonde liedjieskrywer en musikant, Elvis Blue tree Saterdag (13 April) by die Snowflake-gebou op.

Bekroonde liedjieskrywer en musikant, Elvis Blue tree Saterdag (13 April) by die Snowflake-gebou op.
Sy aanhangers moet hul regmaak vir ‘n groot konsert want ‘folk’-sanger Faraway George tree vooraf op. In Saterdag se konsert sing Elvis bekende treffers soos The living years en To be with you uit sy album Stories, asook die onlangse top 10 treffer, Berg. Konsertgangers kan ook verder uitsien na Toe ons jonk was, Rede om te Glo en Die Hemel wat ook op die program is.
Elvis is bekend vir sy verhoogpersoonlikheid wat mense met stories en grappige liedjies tussendeur vermaak. Hy is ‘n briljante liedjieskrywer en is vanjaar weer vir drie Ghoema-toekennings genomineer – beste komposisie, beste liedjieskrywer en beste vervaardiger in ‘n groep saam met Juan Floors Oosthuizen.
Kaartjies teen R100 per persoon word by die Snowflake-gebou tussen 09:00 en 16:00 of aanlyn by https://plankton.mobi/Events/EventBooking/ verkoop.
Die aand van die konsert open die deure om 18:00, waarna konsertgangers hulle plekke kan inneem. Daar sal ook kos en drank te koop wees.
Die Snowflake-gebou is op die hoek van Wolmarans- en Piet Bosmanstraat geleë.
Het jy geweet?
Elvis het vir die eerste keer in 2010 bekendheid verwerf toe hy as die wenner in die sesde reeks van MNet se Idols South Africa aangewys is. Hy het sy prysgeld met Lloyd Cele gedeel wat tweede plek in die kompetisie behaal het.
Elvis Blue se geboortenaam is Jan Adriaan Hoogendyk.
Hy het as jong musikant gereeld musieklesse aan minderbevoorregte kinders gegee. ‘n Seun wat by Hospice in George behandeling ontvang het, Elvis Blaaw, wou graag ‘n musikant wees, maar was terminaal en het later gesterf. Elvis het as huldeblyk die seun se naam aangeneem.
Elvis se ma het hom van kleins af aan klassieke musiek blootgestel. Hy het homself op 16 jarige ouderdom leer kitaar speel en in verskeie orkeste gespeel totdat hy besluit het om vir ‘n paar jaar in Londen en Skotland as straatmusikant op te tree. Met sy terugkeer na Suid-Afrika het hy formele musiekonderrig in klavier, kitaar, sang en komposisie ontvang.
Elvis is ‘n ambasadeur van CANSA en het as filantroop baie geld vir liefdadigheid ingesamel. Met sy Cookie Jar-projek maak hy kleingeld van skenkers bymekaar en skenk dit direk aan barmhartigheidsprojekte soos Marimba’s for Casterbridge, Skoolfondse vir weeskinders en die Thembalitsha organisasie.



