Local news

‘n Slang in die gras in Miederpark

Miederpark inwoners vrees vir hul kinders en troeteldiere se lewens na slange begin floreer het in die omgewing.

‘n Slang in hul huis kon vir ‘n egpaar van Miederpark en hul kleuter tragies geëindig het as hulle dit nie betyds gesien het nie.
Ledel en Suryna van Huyssteen vertel dat hulle en hul 18-maande oue seuntjie 11 Maart ‘n pofadder in hul huis teëgekom het.
“Die pofadder was tussen ons kamer en ons seuntjie s’n,” vertel Ledel. “Hy is nou in ‘n fase wat hy alles optel en mond toe vat. Ons is net dankbaar dat ons dit gesien het voor hy dit gegryp het.”

Janko het ‘n noue ontkoming met ‘n pofadder gehad. Foto: Verskaf.

Ledel vertel verder dat hul seuntjie, Janko, in die huis rondloop en as hulle nie op daardie oomblik die slang ontdek het nie, Janko dalk die ontdekking op sy eie sou maak. “Janko se gunstelingaktiwiteit na skool is om die gras nat te maak. Nou is ons bang dat hy dalk nog ‘n slang sal vind.”
Buiten vir die slang kry ons baie paddas, romanspinnekoppe en ongelooflik baie goggas,” sê Ledel.
“Janko het al so baie battles in sy klein tydjie op aarde geveg. ‘n Slang in sy eie huis moet nie een daarvan wees nie,” sê Ledel.
Adèlle Jerling, ‘n inwoner en wykskomiteelid in wyk 2 het onlangs die lang gras in die ‘groen gebiede’ in laer
Miederpark uitgewys as ‘n groot gevaar wat vir inwoners en hul troeteldiere lewensbedreigend is. Die groen gebiede is in rooi op die kaart gemerk.
Die groen gebiede wat uitgewys is, is die oop erf in Geelhoutlaan asook die oop gedeelte wat die Jehovah Getuie Kerk omring.
Adèlle het aangedui dat die gras in die gedeeltes nie gesny en onderhou word nie, en dat dit tot ‘n plaag van rotte in die omgewing gelei het. Paddas, ander goggas en slange floreer in die omgewing omdat die lang gras skuiling bied.
Adèlle brei uit op die rotplaag deur te sê: “Ek spandeer omtrent R600 per maand aan rottegif. Ek moet die duur gif koop want ek het troeteldiere wat die dooie rotte kan optel.” Adèlle voeg by dat daar ‘n geweldige aantal slange in die omgewing is. “Nie almal het die vermoë om slange te identifiseer en te vang nie. Dit is ‘n situasie wat regtig buite beheer is. Baie mense in die omgewing het klein kindertjies en diere wat bedreig word deur die slange.”
‘n Verdere gevaar is mense wat in die lang gras wegkruip en inwoners se huise dophou.
Adèlle wys ‘n foto van ‘n wegkruipplek wat ontdek is in die lang gras en voeg by dat dit ‘n groot probleem is aangesien inwoners se bewegings só onverstoord dopgehou kan word.

‘n Wegkruipplek van iemand wat die huise vanuit die lang gras dophou. Foto: Verskaf.

‘n Groot vraag om te antwoord is aan wie hierdie groen gebiede behoort, of wie verantwoordelik is om dit te sny en te onderhou. ‘n Anonieme bron het aangedui dat die groen gebiede aan die deaprtement van openbare werke behoort.
Adèlle het ook aangedui dat tot haar kennis die groen gebiede aan openbare werke behoort.
Adèlle het verder verduidelik dat die munisipaliteit en openbare werke ‘n reëling gehad het dat die munisipaliteit die gras sal sny en die gebiede onderhou.
Adèlle voeg by dat sy al verskei kere gevra het dat die gras in die groen gebiede en in die parkies gesny moet word, aangesien mense hul honde daar stap en kinders daar speel. “Daar is op ‘n keer vir my gesê dat die gras gesny word. Die gras word nie gesny nie. Ek weet, want ek bly daar. Daar is blykbaar tans net een trekker wat werk in die hele munisipaliteit,” sê Adèlle.
“Daar is definitief ‘n slang in die gras met die munisipaliteit.”
Munisipale woordvoerder Jeanette Tshite voer aan dat daar nie ‘n ooreenkoms tussen die munisipaliteit en openbare werke is oor die sny van die gras in die gebiede nie.
Tshite voeg by dat die munisipaliteit vyf trekkers het wat gebruik word om munisipale gebiede te sny, maar dat daar tans slegs twee in ‘n werkende toestand is, aangesien drie trekkers herstelwerk benodig.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button