Ma soek geregtigheid vir haar seun
“Die vrou wat my seun gestamp het, loop steeds vry rond met geen skaamte nie,” sê Zenobia James.
Zenobia James, ‘n vrou en ma het haar seun, Ethiel James, sowat ‘n jaar en sewe maande gelede verloor nadat hy die slagoffer van ‘n tref-en-trap in Promosa was.
Die ongeluk het 8 Augustus 2022 omstreeks 21:10 op die hoek van Blommetjie- en Henrystraat plaasgevind. Ethiel was ten tyde van die ongeluk 21 jaar oud.

Zenobia noem dat haar seun vyf minute nadat hy by Potchefstroom Hospitaal aangekom het, gesterf het.
“Die saak word al vir ‘n jaar uitgestel. Elke maand wat ons by die hof kom, hoor ons die saak is uitgestel. 26 Januarie is die laaste keer wat ons by die hof was, en toe is die dossier skielik weg,” vertel Zenobia.
“Dit is uitputtend om elke maand by die hof te kom en te hoor dat die saak uitgestel is of dat die dossier weg is.
“Die vrou wat my seun gestamp het, loop steeds vry rond met geen skaamte nie,” sê Zenobia. “Ek het gehoor dat wanneer sy verby my seuns se vriende ry, hoot sy vir hulle. Dit wil vir my lyk asof sy geen skaamte het nie. Ek wil net hê geregtigheid moet geskied.”
Zenobia vertel dat Ethiel Potchefstroom toe gekom het om by die polisie aan te sluit. “Hy het reeds toetse geskryf en by Pretoria en Potchefstroom aansoek gedoen.
Potchefstroom het eerste laat weet en dit is waarom hy hierheen gekom het, net om ‘n einde aan sy lewe te kry,” merk Zenobia hartseer op.
Kol. Adele Myburgh het oor die dossier wat verdwyn het, gesê dat die beampte wat die saak ondersoek het tydens 26 Januarie se verhoor met verlof was, maar dat die dossier hof toe gestuur is. Kol. Myburgh noem verder dat die dossier blykbaar by die hof tussen die twee aanklaers se kantore weggeraak het, maar dat dit later weer gevind is. Kol. Myurgh voeg by dat die volgende verhoor 28 Maart sal plaasvind.



