Local news

Nieuwestraat inwoner is keelvol vir probleme

“Ek het teen my hek gestaan toe ‘n bestuurder deur ‘n plas water in die straat jaag en my heeltemal deurdrenk met water." Vir Lettie Strydom was hierdie insident die strooi wat die kameel se rug geknak het.

‘n Inwoner in Nieuwestraat, Lettie Strydom (85), het na jare se frustrasies in onveiligheid genoeg gehad. Lettie is onlangs van kop tot tone natgespat terwyl sy op haar sypaadjie gestaan het, en het besluit dat dit die laaste was. “Ek het teen my hek gestaan toe ‘n bestuurder deur ‘n plas water in die straat jaag en my heeltemal deurdrenk met water.”

“Die grootste probleem is die karre wat so jaag deur die straat,” begin Lettie. “Jy sien mos hoe nou is die straat? Mense stop aan weerskante van die straat, en die straat het nog slaggate ook in. Motoriste kom met ‘n vreeslike spoed in die pad afgejaag en kyk nie waar hul gaan wanneer hul vir ander karre en slaggate uitswaai nie.” Lettie is ook bekommerd oor die veiligheid van voetgangers wat die straat gebruik. “Die kinders wat deesdae so op hul fietse raakgery word wys jou net; mense dink net ‘voet in die hoek’.”

Lettie se huis is langs die OK Grocer mini mart se aflaai sone, en trokke parkeer gereeld haar hek toe. Die trokke parkeer ook in die straat wat die reeds smal straat soveel smaller maak. Motoriste wat in die pad afjaag beloop die gevaar om ‘n ongeluk te veroorsaak aangesien hul nie betyds aankomende verkeer voor die trok gaan sien nie. Lettie vertel dat sy elke dag klomp papiere, weggooi houers, sigaretstompies, glas en koeldrankbottels in haar tuin optel. “Partykeer gebruik mense my tuin as ‘n toilet.” Lettie merk op dat die vygies wat in die tuin op haar sypaadjie geplant is eens pragtig en welig gegroei het, maar nou jammer daar uitsien. “Dis van al die gemors en ander goed wat mense in my tuin los,” sê Lettie vies. “Dis gevaarlik, want baie van ML Fick se leerders loop deur Nieuwestraat huistoe in die middae.”

Lettie Strydom wys na die vygies wat verwoes is as gevolg van vullis wat in haar tuin gegooi word. Foto: Cornelia Hitge
‘n Trok en ander karre is aan weerskante van Nieuwestraat geparkeer wat die reeds smal straat soveel smaller maak. Foto: Cornelia Hitge

Daar is ‘n voortjie aan die een kant van die straat, en Lettie noem dat voetgangers dit as ‘n stoorplek gebruik. “Mense druk gereeld goed daarin en kom haal dit weer later. Ons het geen idee wat hul daar bêre nie.” Die voeteverkeer in die straat hou ook ‘n groot gevaar vir inwoners in. Lettie is verlede jaar in Desember van haar selfoon beroof terwyl sy in die huis was. Sy het net 40% gehoor in haar een oor, en niks in die ander oor nie. Hierdie maak haar ‘n groter teiken as ander aangesien sy nie die inbrekers dadelik sal hoor nie. “Mense het ook al aan my hek kom ruk om in te kom. Wanneer ek my huis se hek oopmaak, of die voorste hek oopmaak moet ek buite sit om seker te maak niemand kom in nie.” Lettie keer terug na die motoriste en sê dat die gejaag in die straat van alles, die grootste probleem is. “As mense net kan leer dit is ‘n smal straatjie, daar is gate in, daar loop kinders, moenie soos duiwels jaag nie,” beklemtoon Lettie ferm.

Related Articles

 
Back to top button