Krakende muur by munisipale woonstelle maak inwoners angstig
Inwoners is bang die boom val om.
‘n Groot boom wat die muur by Skemering munisipale woonstelle so druk dat dit begin kraak, maak inwoners angstig.
Inwoners is bang die boom val op die woonstelle, of die muur val om. Die fondasie van een van die woonstelle het reeds begin kraak as gevolg van die boom se wortels.
Die boom staan in die erf van die kerk langsaan en vele pogings om hulp vanaf die kerk of die munisipaliteit af te kry, was onsuksesvol.
Trompie Burger, ‘n inwoner van Skemering, sê hy het aangebied om gate in die boom te boor as die kerk diesel in die gate sal gooi sodat die boom kan vrek.
“Die gate is geboor, maar die diesel is nooit ingegooi nie. Die gate is alweer toegegroei. Die kerk sê die munisipaliteit moet die boom uithaal. Die munisipaliteit sê hulle kan nie die kerk se perseel betree om die boom uit te haal nie. So daar kom net nooit ‘n oplossing nie.”
Die boom se wortels het ook glo pype verstop en inwoners sukkel nou ook met riool probleme.
Madra de Bruin, DA-raadslid van daardie wyk, sê sy het met die kerkraad gesels en die kerk sal die situasie uitsorteer. Daar is wel nie ‘n tyd gegee teen wanneer dit reggestel sal word nie.
Die munisipaliteit is vir navraag gekontak, maar ten tyde die publikasie is geen terugvoer ontvang nie.






