Nuwe direkteur het groot drome vir Gimmies se krieket
"Ek weet dit is 'n groot doelwit maar ek glo vas met harde werk dat ons dit kan bereik," het hy gesê.

“Vir my is dit belangrik om die seuns en meisies te ontwikkel en om liefde vir krieket nog meer te kweek.”
Dit is die woorde van Jandré Jacobs wat onlangs as Gimmies se nuwe direkteur van krieket aangestel is.
Dié oud-Volkie is al sedert 2012 by afrigting betrokke.
“Ek het by Potch Volkies in 2011 matrikuleer. Ek het daar twee jaar vir die eerste span gespeel. Ek was toe drie jaar na skool deel van die NW Krieket Akademie, waar ek gespeel het en my vlakke in afrigting ook gekry het,” vertel Jacobs.
Hy is nie vir Gimmies ‘n nuwe gesig nie en het in 2018 al by die skool afgerig. Kort daarna is hy as hoof van krieket by Potch Central aangestel. Van daar het Jacobs se loopbaan spoed begin kry. Hy is as afrigter van verskeie ouderdomsgroepe se provinsiale spanne aangestel. Gimmies het duidelik gesien dat Jacobs het wat dit vat om Wian Lubbe, wat ‘n ander pos aanvaar het, se opvolger te wees.
“Potchefstroom Gimnasium trek baie goeie krieketers na die skool, met die sukses en hoogtes wat oud Gimmie leerlinge al bereik het. Ek glo aan basiese vaardighede, om te oefen en te speel op ‘n hoë standaard,” verduidelik Jacobs sy filosofie.
Volgens hom mik hy om na die Finsbury A Liga toe te skuif en ook met die A spanne op die top 10 krieket skole ranglys te kom.
“Ek weet dit is ‘n groot doelwit maar ek glo vas met harde werk dat ons dit kan bereik,” het hy gesê.



