Gemeenskap rou oor geliefde sersant
Hy het nooit sy humor of sy sorgsame aard verloor nie.
Sersant Kobus Vermeulen (41), ook bekend onder sy geliefdes as Koosh, los ‘n groot leemte in die harte van sy familie en vriende na sy dood op 18 November.
Kobus was vir 20 jaar deel van die polisie en het vir die duikeenheid in Kimberley gewerk waar hy sy passie uitgeleef het. Hy het daarna by Potchefstroom se SAPS Flying Squad aangesluit. Sy liefde vir duik was groot en Mosambiek het ’n spesiale plek in sy hart gehad —’n plek waar hy die dieptes kon verken wat hy so lief gehad het.
Hy was ook deel van die online gaminggemeenskap wat reg oor die wêreld strek.
Kobus het in 2014 ’n hartoorplanting ontvang. Dit was ‘n wonderwerk wat sy familie nog 10 kosbare jare saam met hom gegee het. Hy het daardie jare voluit geleef, gevul met liefde, lag, en sy unieke lewenslus.
Die afgelope jaar was ’n moeilike een vir hom, met gesondheidsprobleme en verskeie hospitalisasies, maar hy het nooit sy humor of sy sorgsame aard verloor nie.
Sy suster, Maruska, sê Kobus het altyd ’n manier gehad om ’n kamer op te helder met sy humor.
“Of dit nou sy eindelose tergstreke was, gesigtrekke, of grappies maak, hy het altyd iemand laat lag. Hy het dit geniet om mense se reaksies te sien en hy het daarvan gehou om ’n glimlag op iemand se gesig te sit. Dit was sy gawe om altyd die mood ligter te maak met ‘n grappie. Kom ons eer hom deur sy liefde, humor, en sy vreugde vir die lewe voort te dra. Kobus, ons gaan jou baie mis, maar jou lag, liefde en herinneringe sal altyd by ons bly. Ek sal nooit vergeet hoe ons in die kombuis gedans het nie. Ek gaan my danspartner mis. Rus sag boetie.”
Kobus en sy verloofde, Zarika Mostert Joubert, sou hulle drie jaar herdenking in Desember vier. Die paartjie het mekaar deur Kobus se suster ontmoet.
“Kobus was ‘n terggees gewees. Hy het daarvan gehou om mense te laat lag met sy grappe en sy warm glimlag, maar was wel ook n diep mens met ‘n hart vol liefde. Niks was vir hom te veel moeite gewees nie en hy’t sy werk ernstig opgeneem. Vir my en Nicolas was hy ‘n besonderse persoon en ons was baie lief vir hom.”
Louisa Vermeulen, Kobus se ma, het vir hom geskryf:
“My Liefste seun. My hart is stukkend, maar ek weet jy is nou gelukkig, jy het geen pyn of stres meer nie. Ek gaan okay wees my kind. Dankie dat jy soveel omgegee het en altyd daar was. Nou kan jy weer sorgvry in in die Hemel wees.”
Louisa erken dat Kobus soveel mense geraak het met sy omgee, liefde, toewyding, glimlag, en selfs sy verpestings.
“Ek gaan jou oproepe, grappies en geselsies so mis. Ek is vreeslik trots op jou. Jy was altyd positef. Selfs tydens jou hart oorplanting was jy net positief. Jou geloof was groot. Jy het ons selfs in jou hospitaalbed laat lag. Jy was ook so trots op jou eenheid, SAPS Flying Squad.”
Louisa gee toe dat Kobus ‘n goeie seun was, ook ‘n goeie broer vir sy suster.
“Ronnie was so lief vir sy oom Kobus en jy het hom ook so lief gehad. Ek is ontsettend lief vir jou. Rus in vrede my seun, tot ons mekaar weer sien. Vir altyd jou mamma.”



