Local news

Riool in komplekse maak inwoners moedeloos

Inwoners is moedeloos met die probleem wat nie opgelos word nie.

Rou riool wat uit mangate in Paryslaan, Bailliepark borrel en dan by woonkomplekse insyfer, word by die dag ‘n groter probleem. Inwoners van die komplekse se gesondheid lei daaronder en die reuk van die riool kan al van buite die dorp af geruik word. Die situasie is so erg dat huise selfs deur die riool oorstroom word.

Nadat die AfriForum-tak in Potchefstroom op 11 November ’n skrywe aan die munisipaliteit gerig het oor die gevolge wat dit in die gesig staar as daar nie dringend aandag aan die probleem gegee word nie, het die munisipaliteit beloftes gemaak om dadelik in te spring en die probleem op te los.

Fanie Zoko, verteenwoordiger van die munisipaliteit, het die Herald, AfriForum en lede van die gemeenskap Donderdag, 21 November by die probleem-area in Paryslaan ontmoet om die probleem te bespreek.

Zoko het gesê die munisipaliteit gaan ‘n nuwe rioollyn bo-op die vorige een insit, meer mangate bylas en so sal die probleem opgelos word. Die belofte is gemaak dat die werk stiptelik op Maandag, 25 November sou begin, maar steeds is geen poging aangewend om enigiets aan die probleem te doen nie.

Gerrit Oostehuizen, ‘n inwoner van een van die komplekse, sê die riool tas sy gesondheid aan en geen mens kan slaap of eet met die reuk wat in die lug hang nie.

“Ek het nou maar self uitgegaan en ‘n sloot in die grond gaan grawe in die hoop dat dit die riool uit my erf sal hou.”

Volgens inwoners moet daar volgens wet elke 30 tot 40 meter uit mekaar uit ‘n mangat wees, waar daar nou tans net elke 150 meter ‘n mangat is.

Geen poging om die blokkasies oop te maak, het nog geslaag nie. Selfs nie eers ‘n hoëdruk spuit maak ‘n verskil nie.

Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier-streek, sê sy sal nie opgee totdat die probleem opgelos is nie. Alta het ook bevestig AfriForum gaan ‘n petisie begin om die bal aan die rol te kry.

Die munisipaliteit het Dinsdag laatmiddag begin om die ou riool weg te skraap.

Die Herald is Donderdagmiddag deur Robbie Cooper, ‘n gemeenskapsleier en inwoner van Bailliepark, na die perseel vergesel. Daar waar die munisipaliteit die ou riool weggeskraap het, het dit nou in ‘n diep gat by ‘n stukkende mangat begin opdam. Dit veroorsaak ‘n gevaarlike situasie waar iemand kan inval of verdrink of ‘n motor wat die draai te skerp vat, kan ook in die rioolgat beland.

Die probleem voordat die munisipaliteit die ou riool geskraap het.
Inwoners het angstig gewag om die probleem te bespreek.
Fanie Zoko gesels met inwoners.
Die rioolgat wat nou gevaar inhou nadat dit geskraap is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button