Local news

Salaris van R7 000, maar R30 000 oortyd

Die ouditeur-generaal het bevind dat die munisipaliteit einde Junie onreëlmatige uitgawes van altesaam R3.5m opgehoop het.

‘n Gewone intreevlak werker wat ‘n salaris van R7 000 per maand verdien het glo R30 000 se oortyd gekry. Die hoogste verdiener het na bewering R72 000 oortyd vir 176 ekstra ure in September verdien.

Die munisipaliteit het personeellede byna R25m se oortyd in net drie maande betaal. Oortyduitbetalings het tussen Julie en September vanjaar geskied. Meeste amptenare wat hierdie oortydgeld geëis het is algemene werkers, met sommige ambagsmanne binne die munisipaliteit.

In 2020 het die munisipaliteit sowat R53m in slegs sewe maande vanaf Julie 2019 tot en met Januarie 2020 aan oortyd spandeer. Daardie bedrag is vir ‘n totaal van 383 574 ure se oortyd.

Die munisipaliteit bestee 1,5 tot twee keer meer as die normale uurlikse tarief aan oortydbetalings.

Die Herald het in November 2022 berig dat daar in die 2021/22 boekjaar R83m aan oortydbetalings bestee is.

DA-raadslid Chris Hattingh het in 2023 aan Herald gesê munisipale werkers werk nie altyd op weeksdae nie en oor naweke en vakansiedae is daar skielik baie bedrywigheid om slaggate te vul of gras te sny.

Hattingh het ook genoem dat buitensporige oortydeise en betalings by verskeie geleenthede by die munisipale raad aangemeld is.

DA-raadslid Hans-Jurie Moolman sê die DA het klagtes by die Valke ingedien. Die raad het ‘n jaar gelede ‘n besluit geneem om ‘n forensiese ondersoek in te stel.

“Daar is daardie tyd vir die raad te kenne gegee dat die probleem aangespreek word. Dit is met skok dat ons verneem het dat dit nie gedoen is nie. Ons het intussen opgevolg met die Valke se ondersoek en ons is van voorneme om die bykomende inligting rondom die feit dat daar verdere oortyd betaal is, ook onder die Valke se aandag te bring.”

Moolman gaan voort om te sê die arbeidswet bepaal dat mens net ‘n sekere aantal uur, wat tussen 40 en 45 ure per maand is, oortyd mag werk.

“Uit die aard van die saak het mense baie meer as dit gewerk, in sekere gevalle tot 190 ure oortyd. Die vrae wat ons vra en reeds gevra het, is wie teken dit af en hoekom is daar nie ‘n sisteem om dit te beheer nie?”

Vroeër vandeesmaand is ‘n lasbrief aan die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) toegestaan om die perseel van die munisipaliteit te deursoek en beslag te lê op bewyse wat kan help met ‘n voortgesette ondersoek.

Die SOE se woordvoerder Kaizer Kganyago het in ‘n verklaring gesê hulle ondersoek bewerings van ernstige wanadministrasie rakende die verkryging van kontrakte vir goedere, en werke of dienste deur die munisipaliteit met betrekking tot die bou van ‘n vloedlynkanaal langs die N12 provinsiale pad en Ikagenguitbreiding 11.

Tydens die soektog het die SOE ‘n reeks dokumentasie en toestelle versamel wat noodsaaklik is vir ouditering en voldoening rakende suksesvolle tenders wat van 1 Januarie 2015 tot 4 Oktober vanjaar toegeken is.

Die ouditeur-generaal het bevind dat die munisipaliteit einde Junie onreëlmatige uitgawes van altesaam R3.5m opgehoop het.

Navraag is deur die Herald by die munisipaliteit gedoen, maar ten tyde van die publikasie is geen terugvoer ontvang nie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button