Gimmies reg om alles in Clash te gee
Gimmies se waarnemende hoof moedig leerders aan om elke oomblik van die naweek se sportkragmeting voluit te leef en trots te wees op hul skool, hul taal en hul geskiedenis.
Die waarnemende hoof va nGimmies, Mnr. Martin Marx het sy leerders met die volgende woorde aangemoedig.
Ons vier vanjaar die eeufees van Afrikaans, en dit is interessant om te weet dat Gimmies en Volkies Afrikaans as voertaal gebruik het voor dit as amptelike taal erken is.
So ook is die wedywering tussen dié twee skole al baie oud. In 1944 het die twee skole om die Jacob Wilkens-trofee meegeding. Volkies was die eerste sewe jaar die oorwinnaars waarna Gimmies vir die volgende vier jaar koning gekraai het.
Ons sien met afwagting uit na die kragmeting tussen twee vooraanstaande skole in Potchefstroom. Sport is ’n taal wat almal verstaan, of dit nou op die veld of op die pawiljoen is, sportmangees bly ‘n samebindende faktor.
Die samehorigheidsgevoel, gedeelde emosie en kameraadskap van die Gimmie-Volkie-kragmeting beteken baie vir die Potch
gemeenskap.
Mag elke deelnemer sy Godgegewe talent uitleef en elke oomblik geniet. Ons wens is ook dat die gemeenskap hierdie jarelange tradisie sal koester en die belangrikheid van sulke geleenthede sal waardeer.
Ek bedank graag die hoofborg, FNB, en ander borge wat bydra tot die sukses van dié naweek. Sonder u goedgesindheid sal sulke geleenthede glad nie kan plaasvind nie. Dankie ook aan elke ouer, die sakesektor en die breër gemeenskap vir die rol wat hulle in ons skole speel.
My gebed is dat God hierdie jarelange tradisie en die naweek se
verrigtinge sal seën.



