Rooi of blou? Dit is weer Classic Clash tyd
Die FNB Classic Clash tussen Gimmies en Volkies vat weer vanjaar vlam, met rugby, netbal en kultuur wat die kollig in hierdie jaarlikse tradisie steel.
Dit is weer tyd vir die jaarlikse FNB Classic Clash tussen Gimmies en Volkies.
Dié twee skole durf mekaar op verskeie terreine aan, insluitend netbal, hokkie, kultuur en tennis.
Tog is dit die rugby wedstryd tussen die skole se eerste spanne wat elke jaar die grootste skare lok. Vanjaar gaan die wedstryd op Gimmies se veld plaasvind. Die wedstryd skop om 14:00 af. Daar is groot afwagting met Volkies wat in 2022 laas die wenner van dié wedstryd was, maar beslis vanjaar as die gunsteling beskou word.
Beide skole het nuwe hoofde, en Gimmies het ook ‘n nuwe direkteur van rugby in die vorm van Regardt Kleingeld, wat die manne in blou reg sal hê vir die stryd. Volgens Mighael de Beer, hoofafrigter van Volkies se 1ste XV, is die clash uit die aard van die saak ‘n hoogtepunt op die kalender waarna hulle baie uitsien.
“Dit is baie groot, maar mens moet dit as net nog ‘n wedstryd benader in terme van voorbereiding. Ek dink ons is goed voorberei, ons het goed gebalanseerde span en ons gaan ons heel beste gee om die Suiddorp trots te maak,” het De Beer gesê. Volkies se verdediging is iets waarop die manne in rooi baie klem lê. Dit is ‘n faset van die die spel wat hulle goed doen en waar hul karakter werklik wys. Gimmies gaan moet hard werk om deur die klipharde duikslae van Volkies te breek.
Regardt Kleingeld, direkteur van rugby by Gimmies, sien uit na sy eerste Gimmie-Volkie clash, maar gee bes dat dit ‘n moeilike wedstryd gaan wees.
“Ons is verseker die buiteperde in dié wedstryd. Volkies het ‘n sterk seniorgroep, maar ek dink in so wedstryd gaan dit oor wie sy geleenthede die beste gebruik. Niks wat jy voor die wedstryd gedoen het maak saak nie. Ons het twee goeie naweke agter die rug, so ek dink ons is reg. Dit gaan taai wees, maar ons sien uit,” het Kleingeld gesê.
Sedert 2000 het die clash 24 keer plaasgevind. In 2020 en 2021 het die titaniese stryd weens die Covid-pandemie nie plaasgevind nie. Van die 24 kragmetings het Gimmies 13 gewen en Volkies net nege keer as wenner uit die stryd getree. Daar was slegs een keer waar die spanne gelykop gespeel het, in 2009.



