Volkies bou karakter en vier tradisie
Skoolhoof spoor Volkies aan om karakter, tradisie en trots te vier tydens hierdie historiese sport byeenkoms in Potchefstroom.
Die skoolhoof van Volkies, Mnr. PW van Aswegen het dié boodskap aan Volkies gestuur op die vooraand van die Classic Clash.
Dit is vir my ‘n groot voorreg om vanjaar vir die eerste keer deel te kan wees van hierdie geskiedkundige gebeurtenis in
Potchefstroom.
‘n Jarelange tradisie waar twee van die topskole in die Noordwes-provinsie mekaar die stryd aansê, en waarop die fondamente van hierdie week se gebeurtenisse op wedersydse respek, passie en uitnemendbeid vir ons dorp se leerders, gebou is. Mag elke Volkie werklikwaar die klein oomblikke wat waarde in hulle lewens toevoeg, inneem en vir ewig in hulle gedagtes vasvang. Mag hierdie week in goeie gees en tot seën geskied ter ere van ons Almagtige Vader.
Mag elke Volkie-leerder nooit vergeet wat ons voorgangers vir ons opgeoffer het nie, sodat ons vandag alle geleenthede met
ope arms kan ontvang.
Ek wil ook my diepe dank en opregte waardering uitspreek teenoor elke borg, ouer, ondersteuner, beheerliggaamslid, sportkomiteelid, afrigter, onderwyser en trotse Volkie leerder vir julle toewyding, passie en liefde vir ons skool. Julle is die ligdraers van ons glorieryke en befaamde storie. Julle onbaatsugtige opofferings, lojale, standvastige en getroue ondersteuning om ons skool te alle tye by te staan, is vir ons die hartklop waarmee ons elke dag
uitnemendheid nastreef.
Julle Volkies is ons trots! Gaan uit en gryp elke geleentheid met beide hande aan. Wat saakmaak aan die einde van die dag, is met watter gesindheid julle deelneem. Ons karakter en die manier hoe ons dit uitleef en voortbou, is die ewigheidswaarde waaraan ons Volkies geken word. Ek los julle met die wyse woorde van Rick Warren: “Mense word
maklik geïnteresseerd deur talent, God stel belang in jou karakter.”



