Só pak ons saam Potchefstroom se slaggate aan
Die projek het eers met die strate om die winkelsentrum begin, maar sal uitbrei soos wat die tyd aanstap en fondse groei.
Almal is bekend met Pick n Pay van der Hoffpark se gemeenskapsprojek waarby mense hul kruideniersaankope se strokies in ‘n boks kan gooi en die winkel dan 2% van die aankope aan die instansie skenk.
Dié projek is vir baie jare reeds aan die gang en gee sowat R500 000 per jaar aan die gemeenskap terug.
Conrad Potgieter, eienaar van Pick n Pay van der Hoffpark, het nou ook ‘n slaggat boksie begin waarby mense hul kruideniersaankope se strokies in die boksie kan gooi. Van daardie bedrag sal 2% dan gaan om slaggate in Potchefstroom reg te maak.
“Ons het binne die eerste twee weke genoeg geld gehad om 28 gate in Van der Hoff te herstel,” vertel Conrad.
Die projek het vir Dirkie Venter genader om te help om die slaggate te herstel. Die projek het eers met die strate om die winkelsentrum begin, maar sal uitbrei soos wat die tyd aanstap en fondse groei.
“Ek glo as jy ‘n oop hand het en gee, sal jy ontvang. Hierdie is absoluut ‘n gemeenskapsprojek met die doel om terug in die gemeenskap te ploeg. So kom koop by ons, gooi jou strokie in die boks en saam maak ons Potchefstroom se paaie beter.”





