Local news

Vat-verniet-tafel projek in Potch

Angelique vertel hulle beplan om elke maand die projek voort te sit, veral in 2026.

Die Vat verniet-tafel projek vir haweloses wat 12 Julie in Mooirivier Beskerming se parkeerarea gehou was, was so ‘n reuse sukses dat ‘n nuwe datum vir Augustus bekendgemaak is.

Haweloses en die in nood kan 16 Augustus om 17:00 vir hulle sonder enige skaamte of oordeling, benodighede kom haal. Mense kan vir hulself skoene, klere, kos, komberse, seep, medikasie en ander benodighede kry.

Die inisiatief is deur Angelique Lottering en haar vriendin, Janene de Beer begin met die doel om Potchefstroom se mees kwesbares te help om toegang te kry tot die alledaagse basiese dinge wat die meeste van ons as vanselfsprekend aanvaar. Angelique en haar kollega, Angelique van Rooyen, dryf nou die projek.

Angelique sê die projek het klein begin, maar vinnig geëskaleer en dat hulle nie besef het hoeveel mense bereid is om te help nie.

“Die vorige projek was slegs binne twee dae gereël en uitgevoer. Hierdie keer het ons meer tyd en sal graag meer beheer oor wat elke persoon kry, wil uitoefen. Net om seker te maak almal kry wat hulle nodig het.”

Sy gaan voort om te sê vrywilligers sal by stasies ingedeel word en mense sal vooraf gevra word hoeveel hulle in ‘n gesin is. Klere word ook tans vooraf uitgesorteer.

“Ons het twee oulike tannies, Ria en Rosvita, wat elke dag vir ons klere kom uitsorteer. Ons het reeds massas skenkings van klere vanaf Herbon en Samuel Broadbent ontvang. Dit maak my hart warm om te dink dat hierdie instansies, wat dit self nie breed het nie, bereid is om hulle harte oop te maak en te help.”

Verskeie besighede het reeds water en seep geskenk.

“Ons benodig dringend waspoeier. Ons sal dit self in pakkies opmaak. Ons benodig ook blikkies kos, verkieslik die wat oop kan trek of met blikoopmakers. Komberse, handdoeke, medikasie, toiletware, rugsakke of drasakke en dan wil ons graag ook Bybels vir die mense beskikbaar stel.”

Die span beplan ook om op die dag sop en vetkoekies, sowel as pap en stew uit te deel.

“Ons beplan om dit als vooraf te skep sodat almal ‘n kans kan kry om iets te kry om te eet,” gaan Angelique voort.

Planne om weer broodjies en kolwyntjies uit te deel is ook in die werke. Soos met die vorige projek, sal mense se voete ook gewas word.

“Ons gaan mense help deur voete te was, soos wat Jesus voete gewas het. Dit is ons hart agter dit, om vir mense Jesus te wys.”

Angelique vertel hulle beplan om elke maand die projek voort te sit, veral in 2026.

Indien jy enige bydra wil maak, kan jy donasies by Mooirivier Berskerming aflaai. Hulle is 24/7 oop. Alternatief kan jy vir Angelique by 067 080 2757 skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button