Potchefstroom se ystervrou inspireer duisende deur boodskap van hoop
Jy het kans tot 31 Augustus om vir Santi te stem vir Inspirasievrou 2025.
Santi Britz, vrou, ma, ouma, sakevrou en stigter van iDUC (Initiative for Dedicated Upliftment and Care), is een van die top 50 finaliste vir Voelgoed Media se Inspirasievrou 2025.
Gebore in Johannesburg en al 24 jaar ’n trotse Potchefstromer, het Santi dit haar roeping gemaak om slagoffers van geslagsgeweld te ondersteun.
Haar pad het in 2009 begin toe sy self die trauma van verkragting deurgemaak het. Ná maande van lyding en ’n hofsaak waarin haar aanvaller lewenslank gevonnis is, het sy besluit om ander te help wat nie die nodige ondersteuning ontvang nie.
“As ek vandag terugkyk, besef ek dat dit nie net my reis was nie, dit is ‘n reis wat soveel slagoffers daagliks in SA moet trotseer. ‘n Reis van verwoesting, ontkenning, skok, afgryse, pyn en soveel meer.”
Die storie van iDuc begin toe sy ‘n paar dae nadat sy verkrag is, ‘n pragtige plastiekeendjie van ‘n jong vriendin gekry het. Santie is deur Childline genader om te werk met ’n vyfjarige dogtertjie wat getraumatiseer was nadat sy gesien het hoe haar ma verkrag word. Santie het die kind só bemoedig deur die eend vir die dogtertjie te gee. In haar genesingsreis het sy weer begin praat en uiteindelik ook in die hof getuig.
Vandag bied iDUC bystand aan slagoffers van mishandeling en verkragting, ondersteun krisissentra, skep bewusmaking onder mans en bestuur GBV-programme by universiteite. Die organisasie beskerm ook sportlui in samewerking met Atletiek SA.
As motiveringspreker gebruik Santi haar storie om hoop te bring.
“Sedert 2018 is byna 80 000 moorde en meer as 60 000 verkragtings onopgelos. As ons stilbly, gee ons misdadigers toestemming om aan te hou,” meen Santie.
Haar boodskap aan slagoffers is duidelik: “Moenie toelaat dat ’n verkragter jou toekoms vernietig nie. Kry hulp, daar is volkome genesing en hoop.”
Jy het kans tot 31 Augustus om vir Santi te stem vir Inspirasievrou 2025.
SMS Inspirasie 7 na:
33282 vir 1 stem: R1.50 per stem
39051 vir 11 stemme: R15
41014 vir 21 stemme: R25



