Local news

Protes ruk hand uit na slagoffer nie gehoor word nie

Die protesaksie was 'n reaksie op kommer oor hoe 'n aangemelde geval van GBV deur die koshuis, universiteitsstrukture en SAPD Potchefstroom hanteer is.

‘n Groep van ongeveer 250 studente het Saterdag onrus op die Bult veroorsaak toe ‘n protest oor geslagsgebaseerde geweld (GBV) glo handuit geruk het.

Volgens verskeie studente wat op die toneel teenwoordig was, het die gebeure van 15 en 16 November egter deel gevorm van ‘n gekoördineerde protesaksie in reaksie op kommer oor hoe ‘n aangemelde geval van GBV deur die koshuis, universiteitsstrukture en SAPD Potchefstroom hanteer is.

Voordat die protesoptogte begin het, het die slagoffer, wat ‘n beweerde verkragting op 6 September aangemeld het, kennis ontvang dat haar huurhernuwing by TMM Lofts afgekeur is omdat sy “gemerk” is.

In korrespondensie met die bestuur het die student die besluit bevraagteken en verwys na Huisreël Nr. 5, wat ernstige gevolge voorskryf vir individue wat “fisiese aanranding, verkragting of oortredings van die Wet op Seksuele Misdrywe” pleeg. Sy het aangevoer dat die reël toegepas word op ‘n manier wat haar as die klaer benadeel. Sy het ook kommer uitgespreek dat haar kamermaat voor haar in kennis gestel is, en dit as ‘n skending van privaatheid beskryf.

TMM Lofts het glo geantwoord dat, as ‘n privaat woning, “die reg van toegang voorbehou word”, sonder om haar vrae oor veiligheid, die beleid of die bewerings rakende die beskuldigde aan te spreek.

Studente beskryf die geforseerde oopmaak van die hek as ‘n daad van frustrasie nadat langdurige pogings om te kommunikeer onsuksesvol was. Diegene teenwoordig hou vol dat geen inwoners beseer is nie en dat die skare gefokus gebly het op die versoek om erkenning van hul bekommernisse.

Louis Jacobs, woordvoerder van die Noordwes-Universiteit (NWU), sê gedurende 15 November, het ‘n groep studente buite die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit bymekaargekom.

“Die studente het gekla oor ‘n saak van geslagsgebaseerde geweld, wat na bewering aan die begin van September plaasgevind het, en wat volgens hulle nie die nodige aandag van die universiteit en SAPD ontvang het nie. Hulle is in kennis gestel dat die ondersoek van die universiteit se kant afgehandel is en binnekort gefinaliseer sal word.”

Die studente het toe na die woning van die hoof en visekanselier van die NWU in Calderbanklaan gemarsjeer en geëis om hom te sien.

“Dit was ‘n onwettige optog, en die universiteit het met ‘n ondersoek na die voorval begin. Studente wat die optog georganiseer en daaraan deelgeneem het, sal die gevolge moet dra, indien hulle skuldig bevind word.”

Omstreeks 21:00 het die groep begin verdaag en het dit rustig geraak.

Gedurende die middag van 16 November het die studente ‘n memorandum aan die SAPD oorhandig.
“Die situasie word noukeurig gemonitor, en alle moontlike maatreëls is ingestel om te verseker dat daar geen ontwrigtings op die kampus sal wees nie,” gaan Jacobs voort.

“Die universiteit veroordeel weereens enige vorm van geslagsgebaseerde geweld ten sterkste, en enige individu wat sulke dade pleeg en daaraan skuldig bevind word, sal ernstige gevolge in die gesig staar, insluitend uitsetting. Ons bly standvastig in ons nultoleransie-houding teenoor geslagsgebaseerde geweld en doen ‘n beroep op al ons belanghebbendes om ons te help om hierdie pandemie uit te roei.”

Kolonel Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê die Potchefstroom Openbare Orde Polisie (POP) is Saterdagaand na die NWU Potch-kampus ontbied nadat studente betoog het oor die beweerde verkragting van ‘n student.

“Die polisie het ingegryp en daar is na onderhandelinge ooreengekom dat die studente die volgende dag na die polisiestasie sou kom. Op Sondag om 12:00 het studente na die Potchefstroom-polisiestasie gemarsjeer en ‘n memorandum aan die polisie oorhandig. Na die optog het die studente huis toe gegaan.”

Geen skade aan eiendom is aangemeld nie en die polisie het geen geweld tydens die protesaksie gebruik nie.

Lees die vorige berig hier: https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/local-news/2025/11/17/kyk-studente-protes-ruk-hand-uit-op-die-bult/

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button