KYK: Verdagtes in gewapende roof in verkeersvoertuig gemoker
Dit was egter nie ‘n verkeersbeampte wat aangeval is nie.
WAARSKUWING: Die volgende video kan sensitiewe kykers ontstel.
Twee gewapende roof verdagtes is in hegtenis geneem nadat inwoners gereg in eie hande geneem het en die mans binne ‘n verkeersvoertuig gemoker het. Die verdagtes word glo met ‘n gewapende roof in Klerksdorp verbind.
Die polisie in die Noordwes het met groot kommer kennis geneem van ‘n video wat op verskeie sosiale mediaplatforms sirkuleer wat wys hoe ‘n verkeersbeampte aangeval word. Die beweerde voorval het 15 Desember plaasgevind.
Dit was egter nie ‘n verkeersbeampte wat aangeval is nie.
Kolonel Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê voorlopige ondersoeke dui daarop dat die voorval op die R503-pad tussen Klerksdorp en Hartbeesfontein plaasgevind het. Dit volg op ‘n beweerde gewapende rooftog wat plaasgevind het kort voordat die video opgeneem is.
“Daar word beweer dat twee manlike verdagtes, onderskeidelik 44 en 26 jaar oud, wat daarvan beskuldig word dat hulle ‘n gewapende roof gepleeg het, deur lede van die publiek in hegtenis geneem is. Die verkeersbeampte, wat patrolliewerk gedoen het, is deur gemeenskapslede voorgekeer en die verdagtes, wat agternagesit is, het in ‘n verkeersvoertuig gevlug vir beskerming. Hul agtervolgers het hulle toe binne die verkeersvoertuig aangeval. Die verkeersbeampte het die polisie ontbied, wat vinnig gereageer het, en die gemeenskapslede het van die toneel gevlug. Die twee verdagtes, wat erg aangerand is, is onder polisiebewaking na die hospitaal geneem.”
‘n Vuurwapen met ammunisie, wat vermoedelik in die pleging van die beweerde gewapende roof gebruik is, is ook aan die verkeersbeampte oorhandig.
Myburg gaan voort om te sê die verdagtes bly onder polisie bewaking terwyl hulle mediese behandeling ontvang.
“Die vuurwapen en ammunisie is as deel van die ondersoek gekonfiskeer. Die twee sal voor die Klerksdorp-landdroshof verskyn op aanklagte van gewapende roof en vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen met ammunisie, sodra hulle uit die hospitaal ontslaan word. Die 26-jarige verdagte sal ook aangekla word van die oortreding van Artikel 49 van die Immigrasiewet, Wet 13 van 2002.”
Die polisie ondersoek die omstandighede rondom die voorval, insluitend die gebeure wat in die video uitgebeeld word. Verdere stappe sal geneem word in lyn met die uitkoms van die ondersoeke.



