“Liggaam” in Vaalrivier toe heeltyd drom
Daar word vermoed dat die drom verbygedryf het en vir 'n liggaam aangesien is.
Wat eers as ‘n oomblik van kommer vir vakansiegangers langs die Vaalrivier begin het, het in ‘n onverwagte wending geëindig.
Op Dinsdag, 30 Desember het kampeerders by ‘n vakansieoord aan die rivier geglo dat hulle ‘n liggaam in die water sien dryf het. Hulle het onmiddellik die polisie gekontak. Gegewe die erns van die verslag, het owerhede ‘n volskaalse reaksie van stapel gestuur. Daar is wel na ‘n deeglike soektog slegs ‘n wit drom gevind.
Volgens Noordwes-polisiewoordvoerder, kolonel Adéle Myburgh, is die polisie se soek-en-reddingseenheid, sowel as ‘n helikopter ontplooi om die gebied te fynkam.
“Al wat tydens die soektog gevind is, was ‘n wit 20-liter-drom wat op die water gedryf het,” bevestig Myburgh.
“Daar word vermoed dat die drom verbygedryf het en vir ‘n liggaam aangesien is. Die soektog is daarna afgelas. Geen liggaam is gevind nie.”
Sy het bygevoeg dat as die voorwerp inderdaad ‘n persoon was, die sterk stroom van die rivier die liggaam waarskynlik teen hierdie tyd stroomaf sou gedra het en op die kant uitgespoel het. Geen persoon is ook in die omgewing as vermis aangemeld nie.
“Dit is nou sewe dae, en geen liggaam is gevind nie,” het Myburgh afgesluit.



