Video: Rioolramp bedreig Potchefstroom
’n Ernstigeriool probleem in Potchefstroom laat die alarmklokke lui, met verskeie belangrike instellings en natuurlike hulpbronne wat direk geraak word
Potchefstroom het ’n ernstige openbare en omgewingsnood ontbloot, met rou riool wat onbeheersd deur stormwaterdreine vloei en uiteindelik in die Mooirivier beland. Verskeie sleutelinstellings, waaronder die Abraham Kriel Kinderhuis en die Landboukollege, asook omliggende gemeenskappe en natuurlike ekosisteme, word reeds direk deur die situasie geraak.
Die oorsaak van die krisis is ’n sementpyp van ongeveer 600 mm in deursnee op die hoofrioollyn wat afvalwater vanaf Ikageng en Potchindustria vervoer.
Die pyp, wat onderdeur die Landboukollege na die rioolplaas loop, het meegegee en veroorsaak ’n gevaarlike ophoping van riool. Die stelsel is onder geweldige druk en riool vloei teen ’n massiewe spoed reguit die Mooirivier binne.
“Hierdie probleem het reeds middel Desember 2025 ontstaan en kan eenvoudig nie meer geduld word nie,” sê Johan Zerwick, DAwyksraadslid. “Ons praat hier van ’n ernstige gesondheidsgevaar, ’n ondraaglike stank en die besoedeling van ’n kosbare natuurlike hulpbron.”
Volgens Zerwick is die situasie reeds deeglik geïdentifiseer en voorbereidings is getref om die probleem reg te stel.
“Die pyp is reeds opgegrawe en nuwe pype en materiaal is by die perseel afgelaai. Die werk moet nou net gedoen word,” verduidelik hy. “Ongelukkig verloop die proses uiters stadig.”
Die gevolge is reeds duidelik sigbaar en tasbaar. Inwoners en instellings in die omgewing kla oor die ondraaglike reuk, terwyl die besoedeling van die Mooirivier ernstige langtermyn-implikasies vir die omgewing en openbare gesondheid inhou.
“Ek sal alles in my mag doen om druk op die munisipaliteit te plaas sodat hierdie saak dringend aangespreek word,” beklemtoon Zerwick. “Ons kinders, ons gemeenskap en ons natuur kan nie die prys betaal vir traagheid en nalatigheid nie.”
Teen druktyd het die J.B. Marks munisipaliteit nog geen terugvoer oor die situasie of ’n tydlyn vir herstelwerk verskaf nie.
Kyk na die fotos hier:
Kyk na die video hier:






