CommunityNews

DInge gaan nooit soos jy beplan en soveel meer met kinders in die prentjie

Met ons eerste probeerslag het ons geleer om bietjie vroeër vir Kersvader te laat kom en so ook gedoen. Die twee mannetjies is heel in hul skik met alles, maar soos elke ouer ook weet, lyk ‘n maatjie of nefie se geskenke mooier en beter as myne. Om alles te kroon, lig die rifrug sy been teen Kersvader se boom net om te wys wie is baas.

Dinge gaan nooit soos jy dit beplan nie. En as jy ‘n kind kry, nog minder so. Voor ek ‘n kind gehad het, was ek ongelukkig een van die tipe mense wat vinnig gesê het my kind sal dit nooit doen of, watter tipe ouer doen dit. Maar hulle sê daar is niks soos ‘n kind wat jou nederig maak nie. En as dit by planne kom, meer so.
Ek is een wat leef vir Kersfees. Dit is vir my ‘n feestelike tyd wat jy ietsie vir elkeen kan kry wat jou lewe spesiaal maak en dan nie eens om te praat van die kuier en kos daarby nie. En soveel meer met ‘n kind. Hierdie klein afdruk van jou, waarop jy so trots is, wil jy graag in hierdie tyd bederf met lekkernye en geskenkies. Maar alles draai ongelukkig altyd om logika.
Een, jy kan nie vir jou agt maande oue baba vir sy eerste Kersfees ‘n fiets, “bee-bee gun” of Hout Fort wat jy in die boom vir hom gaan opsit, koop nie. Jy moet as mamma, logies en prakties oor alles dink.

Ai, die aand was net te lank en Kersvader te laat.

Wel, buiten dat my logika gewoonlik by die deur uitgaan as dit kom by die mense waarvoor ek omgee, is dit nog meer so met my klein rakker. Maar genoeg daarvan. Kom ek vertel jul meer oor waarom ek sê kinders en planne werk nooit. Met my swangerskap het ek Kersfees deurgebring met drome van hoe die volgende jaar se Kersfees iets gaan wees wat selfs Sinter Klaas nie sal kan na-maak nie. Hy gaan net die beste kry en saam met ons lekker geskenke oopmaak. Dit gaan ‘n tyd van drama-vry en geselligheid wees.
Maar realiteit is ‘n tannie met ‘n groot knopperige neus en ‘n lang punt swart hoed. Op my seuntjie se eerste Kersfees was hy ‘n volle agt maande oud. Die pragtigste klein afdruk van my, mooier as ek en my man saam. Tong in die kies, het ek en hy al baie gespot dat hy moontlik omgeruil is in die hospitaal, maar ek dink elke mamma en pappa dink sy kind is die mooiste, of hoe? Maar terug by my storie. Uys is ‘n volle agt maande oud en soos alle Vaalies in Desember maak, is ons Kersfees by die see. Hoe meer idillies sal jy nou kan kry, eerste Kersfees by die see. Wel as eerste ouers het ons nie die hitte, die nuwe tande en al sy lekker simptome of die feit dat die nuwe klein lyfie aanvanklik nie van die see sal hou nie, in ag geneem nie. Maar ek was steeds vasbeslote om dit sy beste Kersfees nog te maak. Oukersaand breek aan, Uys het ‘n nuwe pakkie spesiaal vir Kersfees, kos is van een punt tot by die ander gepak en almal is in die bui wat ek die meeste van hou, ‘n kuierbui. Tussen tande en hitte maak ons dit nog steeds werk, tot my klein meneer besluit hy het genoeg van al die mense om hom gehad en raak aan die slaap voor hy een geskenk kon oopmaak of een gelukkige ouma of oupa se oë sien ophelder soos hy die papier skeer. Maar wat, volgende keer sal beter wees, of so dink ek…

Hendré Uys (Uys se nefie) en Uys van Heerden op hul tweede probeerslag van ‘n onvergeetlike Oukersaand.

Die tweede Kersfees was op ons en Uys is al bietjie slimmer en nefie ook al meer op die beweegstadium. Weer met groot verwagtinge en groot idees vir geskenke.
My oudste broer word as Kersvader aangetrek en dié keer sien ons nie kans vir die see nie, maar wel vir my ouers se agterplaas. Met honde en kinders net waar jy kyk durf ons die spesiale aand weer aan. Met ons eerste probeerslag het ons geleer om bietjie vroeër vir Kersvader te laat kom en so ook gedoen. Die twee mannetjies is heel in hul skik met alles, maar soos elke ouer ook weet, lyk ‘n maatjie of nefie se geskenke mooier en beter as myne. Om alles te kroon, lig die rifrug sy been teen Kersvader se boom net om te wys wie is baas. Kersfees nommer drie is weer voor ons deur en buiten my liefde nog steeds vir die gety, is ek tog bietjie slimmer maar het nog steeds al my verwagtinge. Ouboet word weer as Kersvader gebruik en die hele gesin is weer almal lekker saam, die keer met nog ‘n klein lyfie by wat sy eerste Kersfees vier. Uys, Hendré en Albertus is nou al opgewonde oor die aand. Ek dink kinders en ouers was ewe opgewonde, maar dit het ook nie lank gehou nie. Lyfies raak moeg en emosies loop hoog en weer eens is my droom vir die perfekte aand by die deur uit. Wel hierdie jaar sal my vierde probeerslag wees en ek is nog steeds vasberade om dit die beste Oukersaand vir die drie kleine lyfies te maak. As ouers, kind, lewensmaat en broer of suster dink ek jy vergeet gewoonlik die “pyn en lyding” wat jy deurgaan in die tyd om alles vir jou spesiale mense dit die moeite werd te maak, net om dit weer te kan doen vir die klomp mense wat jou die beste verstaan. Geseënde Kersfees aan elke leser. Ek hoop julle het ook hoë verwagtinge wat volgende jaar weer probeer kan word.

Related Articles

Back to top button