Plaaslike kontrakteurs bring veselaanleg tot ‘n halt
Bright Link kontrakteurs wat sedert 16 September konstruksiewerk in Potchefstroom doen om toe te sien dat inwoners uiteindelik veselverbinding tot die internet kan kry, se werksaamhede is vir eers tot stilstand gedwing.
Bright Link kontrakteurs wat sedert 16 September konstruksiewerk in Potchefstroom doen om toe te sien dat inwoners uiteindelik veselverbinding tot die internet kan kry, se werksaamhede is vir eers tot stilstand gedwing.
Plaaslike KMMO’s (klein, medium en mikro ondernemings) in Potchefstroom wat by die projek betrek is, stel nou eise omdat hulle voel hulle word ingedoen. Hulle dring daarop aan dat hulle lys van griewe aangespreek word, voordat enige werk verder aan die veselnetwerk gedoen mag word en verhoed ander subkontrakteurs om verder te werk.
Volgens Bright Link, die konstruksiekontrakteurs wat ‘n kontrak met Vumatel (netwerkeienaar) het, word hulle blootgestel aan intimidasie en is een van hulle werkers met ’n sambok geslaan. Twee sake is reeds by die polisie aahanging gemaak – een van intimidasie en een van diefstal. ‘n Klag van intimidasie is gelê toe ‘n werker met ‘n sambok geslaan is en diefstal nadat lede van die KMMO’s die gereedskap van die buitekontrakteurs gesteel het. Dié gereedskap is intussen teruggegee.
Die woordvoerder van die plaaslike KMMO’s, Vincent Johnson, het egter ontken dat hulle intimideer of dat hulle mense met sambokke geslaan het. Volgens hom is daar tydens ’n vergadering met die buite kontrakteurs, plaaslike kontrakteurs en ‘n lid van die burgermeesterskomitee van plaaslike ekonomiese ontwikkeling, Xolile Chaka, ooreengekom dat niemand verder aan die projek mag werk nie, tensy hulle tot ’n ooreenkoms gekom het. “Ons sal aanhou om die kontrakteurs te stop as hulle met werk wil voortgaan,” sê hy.
Die plaaslike KMMO’s het ‘n lys van griewe waarvan die belangrikste is dat nie genoeg plaaslike kontrakteurs vir die konstruksiewerk gebruik word nie en dat die salarisse wat aan hulle betaal word, nie genoeg is om al hulle kostes te dek nie. Johnson sê dat slegs 10 plaaslike subkontrakteurs betrek is en dat die subkontrakteurs wat vir Bright Link werk, met vragte vol arbeid van ander plekke soos die Vaaldriehoek ingery word.
Volgens Johnson maak subkontrakteurs weer van ander subkontrakteurs gebuik en is die verhouding van plaaslike kontrakteurs baie kleiner as die kontrakteurs wat van buite af inkom.
Bruce Wright, die uitvoerende bestuurder van Bright Link sê weer dat ses subkonrakteurs van buite Potchefstroom aangestel is om hier te werk – MCT, BTN, Samatel, VEATEL, Khamisi, Fredrico Civils en KBC. Wright sê verder dat hierdie projek nie ’n staatsprojek is nie, maar ’n projek wat privaat befonds word en dat die KMMO’s geen reg het om voorwaardes aan hulle te stel nie. “Ons het die plaaslike kontrakteurs in goedertrou ingesluit om hulle en hulle arbeid in hierdie projek op te lei en spesiale vaardighede te leer, maar hulle stel onregverdige eise.”
Volgens ’n areabestuurder van Bright Link, Danie Marais, verg die lê van die kabels spesiale vaardighede en word die projek in fases afgehandel. In die eerste siviele fase word daar van hande arbeid gebruik gemaak om 450mm diep en 300mm wyd te grawe. Tydens dié proses word plaveisel, teer en sement oppervlaktes opgelig. Sodra die uitgrawings gereed is, word daar n mikropyp daarin geplaas en grond word weer terug geplaas. Die grond word dan gekompakteer. Daarna moet die plaveisel, teer en sement weer herstel word na dieselfde of beter kondisie as wat dit gevind was.
Ons het die KMMO’s R70 per meter geoffer. Hulle het egter gesê dat hulle net die oop en toemaak sal doen en die buitekontrakteur kan die plaveisel dan herstel. Hulle het ons R55/m gevra en ons het dit so aanvaar.
Die 2de fase is die optiese veselinstallasie. Die KMMO’s het nie die gespesialiseerde toerusting of hoogs opgeleide tegnikuste om die vesel in die mikropype te installeer, die las van die vesel met lasmasjiene en die toets van die optiese vesel te doen nie. Dus bly dit die buitekontrakteur se verantwoordelikheid. Die buitekontrakteur kry R113 per meter om albei fases te voltooi.
“Ons probeer sover moontlik van plaaslike arbeid gebruik maak, maar daar is sekere aspekte van die projek wat kundigheid verg en ons het ons eie kontrakteurs en werkers wat daardie take verrig dat dit so netjies moontlik gedoen word” sê Danie.
Volgens Johnson verg die grawe van gate geen kundigheid nie. Hy sê dat daar van plaaslike kontrakteurs verwag word om die slote teen R45 per meter te grawe. Daarmee saam moet hulle die area na die tyd rehabiliteer, toegangsbokse installeer, hulle werkers se salarisse betaal en die rommel wegry. “Die MCT-kontrakteurs kry R350 per meter en dan hou hulle net toesig. Hulle werk nie self nie,” sê Johnson. Hy hou vol dat dit nie nodig is om onder die subkontrakteurs van MCT te werk nie en dat plaaslike kontrakteurs die werk alleen kan verrig.
Marais sê egter dat die plaaslike KMMO’s nie die befondsing, spesiale toerusting of die ervaring en kennis het om die projek alleen te hanteer nie. “Hierdie is ’n politieke magspel. Hulle moet self die materiaal kan aankoop en al die gespesialiseerde toerusting en die kennis hê om die projek self te hanteer wat hulle nie kan doen nie.”
Intussen is inwoners kwaad oor konstruksies wat nie na behore afgehandel is nie en het hulle hul ontevredenheid etlike weke gelede al teenoor die JB Marks Verbruikers en Belastingbetalersvereniging uitgespreek. Dié vereniging het probeer help om met die kontrakteurs te kommunikeer oor infrastruktuur en eiendom wat beskadig is.
Volgens Adélle Jerling, voorsitter van die JB Marks Verbruikers en Belastingsbestalingvereniging, het hulle hul bes probeer om te help. “Ons het na vergaderings met diensverskaffers en plaaslike wykraadslede, ‘n een-stop diens gelewer waardeur klagtes na projekbestuurders gekanaliseer is. Inwoners kon klagtes deurstuur na rolspelers en hierdie proses het uitstekend gewerk vir ‘n hele tydperk. Klagtes is vinnig en effektief uitsorteer aangesien inligting deeglik en spesifiek deurgegee is en aandag geniet het.”
Die vereniging het aanvanklik by onlangse samesprekings tussen die KMMO’s en buitekontrakteurs betrokke geraak om die belange van die publiek te beskerm, maar daar kon tot dusver nie ’n oplossing gekry word nie.
“Kommunikasie het afgebreek toe eksterne mediators betrokke geraak het en ons het na konsultasie met regsverteenwoordigers besluit om nie verder betrokke te raak by ‘n potensiële politieke plofbare situasie nie aangesien ons as vereniging steeds staan by ons apolitieke doelwitte,” sê Jerling.
Die werk wat nie kan voortgaan nie veroorsaak veral vir die inwoners groot kommer. “Met die onlangse groot reën veroorsaak oop slote, beskadigde opritte en swak gelaste pype groot skade vir inwoners. Verskeie voertuie het reeds vasgeval in hul eie opritte en ander eiendom is beskadig deurdat werk nie behoorlik voltooi kan word nie.
“Daar is ook klagtes ontvang van bekommerde inwoners oor die feit dat sekere spanne nie oor voldoende ablusie fasiliteite beskik nie en dan toegang vra tot persoonlike eiendom om hulself te verlig. Daar is ook nie kos en water vir die spanne beskikbaar nie, wat daartoe lei dat hulle by inwoners bedel,” noem Jerling.
Marais is baie gefrustreerd met die stand van sake, want die kontrakteurs kan tans nie voortgaan om die probleme aan te spreek en die kwaliteit diens te lewer wat hulle graag wil nie.