Potchefstroom Gimnasium se hokkiespanne het hul staal hierdie seisoen in die Noordwes Premierliga gewys, met agt spanne wat goud verower het.
Daarmee het al Gimmies se A-spanne vir die Noordvaal Groot A Top 12-kompetisie gekwalifiseer. Dit is waar die beste hokkieskole noord van die Vaalrivier mekaar sal uitdaag om die kroon te dra.

Wat hierdie prestasie nog meer merkwaardig maak, is die feit dat Noordwes-spanne minder geleenthede het om vir Noordvaal te kwalifiseer, aangesien slegs die wenners deurdring. Voorheen kon naaswenners in Noordwes ook kwalifiseer.
In die seunsafdeling van die Noordwes Premierliga het Gimmies se o14A- en eerstespan goud verower. Die o16A-span het Curro Klerksdorp met 2–1 geklop, terwyl die eerstespan Rustenburg Hoërskool met 3–0 verslaan het. By die seuns kan naaswenners ook in die o14A- en eerstespan-afdelings vir Noordvaal kwalifiseer.

In die dogtersafdeling het die o14A-, o15A-, o15B-, o16A-, eerste- en tweedespanne die Noordwes-titels gewen.
In die Eerste Divisie het Gimmies se B-spanne ook puik gevaar. Die tweedespan het goud verower met ’n 4–3-oorwinning oor Wagpos in die eindstryd, terwyl die o16B-span met die silwermedaljes weggestap het.



