Watervlakke styg geleidelik en inwoners behoort vandag water te kan ontvang
"Die watervlakke is steeds baie laag (onder 15%), maar ons verwag dat dit van nou af geleidelik sal styg sodat inwoners water kan begin ontvang."
Die waterkrisis wat gedeeltes van Potchefstroom vir die afgelope twee dae geaffekteer het, blyk om ‘n oplossing te bereik.
Die JB Marks Munisipaliteit het gisteraand genoem dat daar maatreëls in plek gestel is om die huidige watertekort in Van der Hoff Park, Mooivallei Park, Grimbeek Park, Baillie Park, Vyfhoek Mall en Tuscany Ridge op te los.
Nadat daar gister onverpoos werk op die gebied gedoen is, is die pomp van water van die Lakeside Waterbehandelingsaanleg na die Vyfhoek Reservoir gistermiddag (Woensdag, 14 September) hervat.
“Die watervlakke is steeds baie laag (onder 15%), maar ons verwag dat dit van nou af geleidelik sal styg sodat inwoners water kan begin ontvang. Die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit vra om verskoning vir die ongerief wat veroorsaak is weens die voorval wat tot watertekorte gelei het. Inwoners sal deurlopend op hoogte gehou word in verband met die vordering,” het Jeanette Tshite, woordvoerder van die munisipaliteit genoem.
Beurtkrag het ‘n groot rol gespeel in hierdie watertekort aangesien die vier pompe nie gelyktydig water kon pomp nie.
’n Watertenkwa het ook gister op die hoek van Richardson- en Malvastraat naby die NG Kerk Vyfhoek gestaan om inwoners met watertekorte te help.
DA wyksraadslid, Anné van Onselen, noem dat die uitvloei vanuit die reservoir gisteraand rondom 19:00 toegedraai is sodat die reservoir voller kan word.
“Die span gaan nou die reservoir vlak nagaan en as alles volgens plan verloop het deur die nag, sal hul die uitvloei vanaf die reservoir kan oopdraai. Dit neem ‘n tyd vir die water om deur te kom. Laerliggende areas gaan eerste weer water hê,” het sy op ‘n Whatsapp wykgroep genoem.




