Hoe om ‘n pleegouer te word
Leer meer hier oor belangrike aspekte van kinderbeskerming

‘n Finalejaar student in maatskaplike werk, Susan Fouché, bied ‘n gemeenskapsprojek saam met NG Welsyn, Potchefstroom, aan om pleegouers vir dié welsynsorganisasie te werf.
Susan is passievol oor pleegsorg omdat sy self vir die afgelope 15 jaar ‘n pleegouer is.
Kindermishandeling en/of -verwaarlosing – wat is jou plig?
Die publiek word verplig om enige mishandeling, verwaarlosing of misbruik van kinders by ‘n aangewese kinderbeskermingsorganisasie, die Provinsiale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling of ‘n polisiebeampte (Kinderwet 38 van 2005, Artikel 110 (1)) aan te meld.
Wat is ‘n aangewese kinderbeskermingsorganisasie?
Dit verwys na organisasies soos NG Welsyn (018) 297 7347, SAVF (018) 297 5240, Kindersorg (018) 293 0425 of RATA (018) 293 0463 wat voldoen aan die voorgeskrewe kriteria wat die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling vasgestel het om spesifieke kinderbeskermingsdienste te lewer. Nie alle organisasies wat met kinders werk, is aangewese kinderbeskermingsorganisasies nie. “ChildLine” is byvoorbeeld nie ‘n aangewese kinderbeskermingsorganisasie nie, omdat hulle nie aan die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling se kriterium voldoen of by hulle geregistreer is nie. Hulle voer egter ander funksies met betrekking tot kinders uit (Kinderwet 38 van 2005, Artikel 107).
Wie is die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling?
Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling is die regering se nasionale departement wat maatskaplike ontwikkelingsdienste aan die gemeenskap moet voorsien. Die Potchefstroom-tak is in Dassierand geleë en hulle kan telefonies by (018) 297 0133 bereik word.
Wat gebeur nadat verwaarlosing of mishandeling gerapporteer is?
Sodra ‘n persoon verwaarlosing of mishandeling by ‘n maatskaplike werker of die polisie aanmeld, moet hulle die saak na ‘n toegewysde kinderbeskermingsorganisasie verwys. Die persoon wat die saak aanmeld, kan ook die saak verwys. Die organisasie, soos byvoorbeeld NG Welsyn, moet dan ondersoek instel na die omstandighede van die gesin en die kind(ers). Dit behels dat die maatskaplike werker van die organisasie ‘n tuisbesoek doen. Indien daar gronde is vir verdere ondersoek, word ‘n deeglike ondersoek gedoen om te bepaal of die kinders sorg nodig het.
Indien sorg nodig is, is daar gronde om die kind te verwyder. Die verwydering word volgens ‘n voorgestelde wettige prosedure gedoen.
Indien u belangstel om meer oor pleegsorg uit te vind, skakel NG Welsyn by (018) 297 7347.



