Saterdag, 5 Augustus was ‘n spesiale dag op Potchefstroom Gimnasium se krieketkalender toe Gimmie-krieket ‘n “Old Boys” dag by die skool gereël het.
Daar was ongeveer 50 voormalige Gimmie krieketspelers vanaf 1987 tot 2022 wat aan hierdie dag deelgeneem het en ook wedstryde gespeel het.
Die 1993 direkteurstrofee-wenspan van Gimmies was ook voltallig en dit was beslis ‘n eer om hierdie span weer bymekaar te kon hê.
Die oud-Gimmie en huidige Dolphins krieket hoof uitvoerende beampte, Heinrich Strydom, was ook deel van hierdie besondere dag.
Nog ‘n spesiale gas was Oom Ben Keet wat deel was van die 1958 direkteurstrofee wenspan. Die organiseerder van die dag, Wian Lubbe, noem dat dit werklik ‘n eer was om die naweek saam die Gimmies Old Boys te kuier en hulle stories te hoor. Hy bedank elke Old Boy wat die naweek moontlik gemaak en ondersteun het.

“Heinrich Strydom het die aand van ons funksie genoem dat Potchefstroom ‘n dorpie is, maar baie veelsydige sportmanne en besigheidsmanne oplewer het wat ‘n groot impak in SA gemaak het. En dit is baie waar. Die Old Boys naweek was gereël om weer die spelers na 25 jaar saam op ‘n krieketveld te sien speel en weer die ou bande te vorm. Ons glo dat ons saam met ons Old Boys Gimmies krieket na groter hoogtes toe kan vat en ons spelers en leerders van vandag in ons Old Boys se voetspore kan stap. Dankie aan elke Old Boy wat die naweek moontlik gemaak het en van vêr af gekom het om ons te ondersteun,” noem Lubbe.








