Kruger 200: Só reis standbeeld na Orania
Op 26 September word daar by die regsfakulteit van die NWU se Potchefstroom-kampus aangedoen waar ’n spesiale erfenisprogram aangebied word wat Kruger se verbintenis tot wet en orde uitlig.
’n Makietie soos min lê voor wanneer die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), asook kultuurnetwerke en plaaslike gemeenskappe, die 200ste herdenking van pres. Paul Kruger se geboorte op luisterryke wyse vier.
Die hoogtepunt is die onthulling van ’n bronsreplika van die beroemde Kruger-standbeeld op Kerkplein in Pretoria, wat in Orania se nuwe stadsplein ’n permanente tuiste gaan vind. Dié beeld, wat saam met sy voetstuk meer as 10 meter hoog sal staan en 1,5 ton weeg, gaan eers by verskeie belangrike plekke aandoen waar Kruger diep spore getrap het.
By elke dorp en stad op die roete is die program soortgelyk gestruktureer om ’n gevoel van eenheid te skep: ’n Toespraak oor Kruger se betekenis vir die Afrikaner en Suid-Afrika, die oorhandiging van ’n sertifikaat as teken van deelname en betrokkenheid, en die opvoering van die toneelstuk “Kruger breek die pad oop” deur NP van Wyk Louw – ’n stuk wat die geloof, pionierskap en volharding van Kruger en sy tydgenote uitbeeld.
Hierdie drie elemente dien as ’n goue draad wat al die feeste en byeenkomste bind.
Vertrek vanaf die Voortrekkermonument
Die Kruger-standbeeld skop sy reis na Orania op Erfenisdag op 24 September af. Met ’n presidensiële partytjie en ’n feestelike seremonie by die Voortrekkermonument, die spilpunt van Afrikaner-erfenis, word daar plegtig van hom afskeid geneem. Oom Paul was immers ’n elfjarige seuntjie toe hy die Slag van Vegkop tydens die Groot Trek moes deurmaak.
“Hierdie amptelike vertrek simboliseer nie net die fisieke reis van die standbeeld nie, maar ook die voortsetting van Kruger se nalatenskap – van sy geboortegrond in die destydse Transvaal tot sy waardige en veilige staanplek in die hart van Orania,” sê Dawid Brand, bedryfshoof: media, bemarking en toerisme van die Kultuurtuiste.
Langs die roete word talle feeste, herdenkings en kulturele byeenkomste deur kerke, organisasies en die FAK se kultuurnetwerke beplan – ’n unieke geleentheid vir gemeenskappe om deel van hierdie geskiedkundige projek te word.
Pretoria
Nadat die standbeeld die Voortrekkermonument-terrein verlaat het, word besoek afgelê by belangrike plekke soos die Krugerhuis, die Gereformeerde Krugergemeente en die Ou Raadsaal op Kerkplein. Hierdie liggings is onlosmaaklik aan Kruger se lewensverhaal verbind en herinner aan sy rol as staatsman, gelowige en leier.
Rustenburg
Op 25 September reis die beeld na Boekenhoutsfontein, Kruger se eie plaas naby Rustenburg, en daarna na die NG Moedergemeente Rustenburg, waar die verrigtinge sal plaasvind. Dit bring sy persoonlike en geestelike nalatenskap weer in herinnering.
Potchefstroom
Op 26 September word daar by die regsfakulteit van die NWU se Potchefstroom-kampus aangedoen waar ’n spesiale erfenisprogram aangebied word wat Kruger se verbintenis tot wet en orde uitlig. Dit beklemtoon ook sy invloed op regsontwikkeling en sy standvastige visie op onafhanklikheid. Daarna word die President Pretorius-museum besoek voor die verrigtinge by die Hervormde Kerk ’n aanvang neem.
Krugersdorp
Op 27 September is Krugersdorp aan die beurt, waar die standbeeld besoek aflê by Pretorius-park en die Paardekraal-monument. Hierdie plek is diep verweef met die geskiedenis van die Eerste Vryheidsoorlog en die herwinning van Afrikanervryheid.
Heidelberg
Later die middag vertrek die toneelgroep na waar hulle by die Laerskool AG Visser se Kameel Karnaval aansluit, waar kinders en ouers saam feesvier. Dit bring Kruger se nalatenskap in aanraking met die jeug – die draers van die erfenis van môre.
Vrede van Vereeniging en Parys
Op Maandag 29 September gaan die Vaaldriehoek Kultuurnetwerk ’n lewende geskiedenisoptrede opvoer waarna die beeld by die Vredesmonument aandoen. Op die FAK Udolpho-rivierplaas naby Parys word die aand behoorlik feesgevier.
Heilbron en Vegkop
Op 30 September wag die Heilbron-gemeenskap vir Oom Paul by die Riemland-museum in Heilbron met plaaslike feestelikheid en erfenisvieringe. Daarna reis die stoet na die Vegkop-terrein, waar ’n kranslegging sal plaasvind ter herinnering aan die Voortrekkers se stryd en oorwinning.
Bloemfontein
Op 1 Oktober reis die beeld suidwaarts na Bloemfontein, waar hulde by die Vrouemonument gebring word ter nagedagtenis aan die lyding en opoffering van duisende vroue en kinders tydens die Anglo-Boereoorlog. Buite Bloemfontein word die toneelstuk by Dankbaar CVO-skool opgevoer.
Paardeberg
Die middag van 1 Oktober vertrek die standbeeld na Paardeberg. Hier woon skole uit Jacobsdal en Petrusburg die verrigtinge by – ’n samekoms van jeug en gemeenskap in die gees van erfenis, en daar word teruggedink aan die oorgawe van die Boere tydens die Tweede Vryheidsoorlog. Die standbeeld reis dan tot by die NG Kerk Bakenkop in Kimberley, waar die gemeenskap hulde bring en deelneem aan die feesprogram.
Die groot aankoms in Orania
Op 2 Oktober bereik die tog sy bestemming in Orania, waar die hele dorp ’n erewag sal vorm vir die standbeeld se intog. Hierdie historiese oomblik, die vestiging van die standbeeld op Orania se stadsplein, word die hoogtepunt van die Kruger 200-vieringe.
Op 10 Oktober 2025, presies 200 jaar ná Kruger se geboorte, word die standbeeld feestelik onthul – ’n simboliese bindmiddel tussen verlede, hede en toekoms.
Fees van erfenis en identiteit
“Die Kruger 200-vieringe is veel meer as net ’n herdenking van ’n groot staatsman se geboortedag. Dit is ’n fees van identiteit, ’n bevestiging van erfenis, en ’n herinnering aan die rol wat gemeenskappe speel om die nalatenskap van leiers soos Paul Kruger lewendig te hou.
“In ’n tyd waar kulturele geheue onder druk verkeer, bied hierdie fees ’n unieke kans om die geskiedenis konkreet te ervaar, jongmense by erfenisbewaring te betrek, en om gemeenskappe oor provinsiale en dorpsgrense heen saam te snoer,” sê Brand.
“Wanneer die standbeeld uiteindelik sy plek in Orania inneem, sal dit nie net ’n monument wees nie, maar ’n simbool van ’n volk se reis – van stryd en geloof, van nederigheid en trots. Dit sal die herinnering aan Paul Kruger as volksleier, staatsman en gelowige lewend hou vir geslagte wat kom.
“Soos die standbeeld sy pad oopbreek deur die land, so breek die Afrikaner vandag weer ’n pad oop na ’n toekoms waar erfenis gekoester, gedeel en gebou word. Kruger 200 is nie net ’n terugblik op die verlede nie; dit is ’n feesviering van die hede en ’n belofte van toekomshoop,” sê Brand.








