Waarskuwing nadat student by treinstasie doodskok
Die gevare is nie die fotos werd nie.
Potchefstroom First Responders en DA-raadslis, Madra de Bruin het ‘n waarskuwing aan inwoners van Potchefstroom en omliggende areas uitgestuur nadat ‘n student (19) Woensdag by die afgebrande Potchefstroom treinstasie dood geskok het.
Met opkomende matriekafskeide en jaareind funksies, is die ou treinstasie ‘n gesogte plek om fotos te neem, maar mense besef nie die gevare daarvan nie.
Leandro de Beer van Potchefstroom First Responders, sê oortreding van lewendige spoorlyne in Suid-Afrika is uiters gevaarlik en hou ‘n hoë risiko van dood of lewensveranderende beserings in.
‘n Trein kan nie vinnig uitswaai of stop nie. Die gemiddelde vragtrein kan tot 1.5 kilometer neem om heeltemal tot stilstand te kom, selfs as die noodrem gebruik word. Teen die tyd dat ‘n bestuurder ‘n persoon op die spore sien, is dit amper altyd te laat.
Treine is dikwels stiller en vinniger as wat hulle lyk, wat dit moeilik maak om hul spoed en afstand te beoordeel. Baie moderne treine is amper heeltemal stil.
Geëlektrifiseerde spoorlyne het hoëspanning-oorhoofse kabels wat 25 000 volt elektrisiteit dra, dit is 100 keer sterker as huishoudelike elektrisiteit.
Hierdie lyne is altyd lewendig, en om met hulle of hul ondersteuningsstrukture in aanraking te kom, kan noodlottig wees.
In Suid-Afrika is oortreding van spoorwegeiendom ‘n kriminele oortreding. Volgens die Wet op Oortreding van 1959 is dit onwettig om spoorweggrond sonder toestemming te betree of daarop te wees.
Oortredingsvoorvalle laat ‘n blywende, verwoestende impak op die families van die slagoffers en die breër gemeenskap.
Madra de Bruin van die DA het ook op WhatsApp-groepe ‘n waarskuwing uitgestuur.
“Aan die publiek en studente van Potchefstroom, vermy asseblief die afgebrande treinstasie heeltemal. Met jaareindfunksies wil baie foto’s daar neem, maar dit is uiters gevaarlik.”
Madra gaan voort om te sê fotos is nie ‘n lewe werd nie.
“Woensdaag het ons tragies nog ‘n lewe verloor as gevolg van lewendige elektrisiteit op die terrein. Foto’s is vir ewig, maar die risiko ook. As jy daarheen gaan, moenie op enigiets klim nie. Ons dringende versoek is dat jy liewer heeltemal wegbly. Ondersoeke is aan die gang en ons druk Transnet om die area te beveilig. Tot dan is jou veiligheid belangriker as ‘n foto. Deel asseblief hierdie boodskap. Dit kan ‘n lewe red.”



