Local newsNewsNews

Kruger-standbeeld nie op Potch-kampus toegelaat nie

Met die Kruger-standbeeld se aankoms by die hoofhek van die NWU-kampus, het nagenoeg 60 studente hulle by die toergroep aangesluit.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereneginge (FAK) is ontsteld nadat die replika van die Kruger-standbeeld en FAK se erfenisviering, Vrydag toegang tot die Noordwes Univertiteit se Potchefstroom-kampus geweier is.

Volgens Bertie Jacobs, NWU woordvoerder, het die FAK nie die nodige prosesse en aansoeke gevolg nie.

Cara Tomlinson, die toerleier, het in ‘n verklaring verduidelik dat daar al weke voor die tyd toestemming oor die seremonie en erfenisviering gevra is.

“Maar toe het ‘n ander bestuurslid van die Mafikeng-kampus opdrag gegee dat ons nie mag voortgaan nie,” het sy gesê.

‘n Groep van sowat 60 studente het egter bymekaar gekom en die Stem by die standbeeld gesing.

“Die Afrikaner se beelde en bakens is onder beleg. Dis nie ’n rokie in die verte nie, maar ’n veldbrand wat vinnig versprei en besig is om ’n volk se nalatenskap te verswelg en vernietig. Nie net die EFF se roekelose rooipet-retoriek in die parlement en op plaaslike regeringsvlak nie, maar veral die fisieke vandalisering van ons erfenis wat voortdurend regdeur die land plaasvind.”

Só sê Dawid Brand, bedryfshoof: media, bemarking en kommunikasie van die FAK, in ’n sterk bewoorde verklaring nadat onmeetbare skade gister aan twee van die brandwagte, wat deel van die oorspronklike Paul Kruger-beeldegroep op Kerkplein in Pretoria vorm, aangerig is.

“Gewetenlose geskiedenisuitwissers het die vreugdevure wat op Erfenisdag met die vertrek van die ewebeeld van die Paul Kruger-standbeeld vanaf die Voortrekkermonument na Orania aangesteek is, twee keer in die afgelope 24 uur probeer blus.

“Benewens die enorme skade aan die twee brandwagte op Kerkplein, is die toergroep wat die replika van die Kruger-standbeeld langs verskeie dorpe na Orania begelei, ook toegang tot die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus geweier. Die erfenisprogram wat vandag daar aangebied sou word, is ook geweier. Dít te midde van die dreunsang van “Kill the Boer” wat herhaaldelik op dié kampus weerklink.

“Hierdie twee gebeure binne 24 uur lê soos ’n donker wolk oor ons Erfenismaandvieringe wat opbou tot die 200ste herdenking van Paul Kruger se geboorte op 10 Oktober. Hierdie reis is bedoel as ’n fees van herinnering en hernude verbintenis tot ons erfenis. Hierdie dade is nie net die teiken van ’n standbeeld nie, maar ’n aanval op wie ons is,” sê Brand.

“Die vandalisme in Pretoria en die weiering in Potchefstroom is ’n wekroep. Dit vra van ons om op te staan, nie meer te pleit nie, maar om te bevestig dat ons sal ons erfenis beskerm. Ons sal ons monumente onderhou. Ons sal ons kinders leer dat ’n volk wat sy wortels verlaat, soos ’n boom is wat sy eie skadu verloor.”

“Hierdie is verontwaardigend,” sê Carel Boshoff, voorsitter van die FAK, wat saam met die beeld op reis is. “Dit is ons waardigheid as erfgename van Paul Kruger, van die republikeinse tradisie en ons sin vir vryheid wat aangetas word. Ons waardigheid as Afrikanervolk word aggressief en aktief afgetakel en vernietig. Wat hier gebeur sál ons nie in ons spore stuit nie; ons is op pad, kruis en dwars deur die Ou Transvaal op pad Orania toe. Op pad die toekoms in.”

Met die Kruger-standbeeld se aankoms by die hoofhek van die NWU-kampus, het nagenoeg 60 studente hulle by die toergroep aangesluit, waarna liedere gesing is en ’n toespraak deur Joost Strydom, uitvoerende hoof van die Orania Beweging, gelewer is. Daarna het die groep verdaag en die standbeeld is na sy volgende besoekpunt by die President Pretorius-museum verskuif.

“Die weiering van ’n universiteit ’n instelling wat kennis, debat en kultuurbewaring behoort te bevorder, om die reisende standbeeld toe te laat, stuur ’n ontstellende boodskap,” sê Barry Müller, nasionale hoof: gemeenskap, geskiedenis en ad hoc-projekte van die FAK.

“Dit sê dat die Afrikaner se erfenis nie meer ’n tuiste het nie, selfs nie op die kampusse wat jare lank as baken van Afrikaanse denke en kultuur bekend gestaan het nie. Dit is ’n simboliese slot op die deur van ’n volk se kollektiewe geheue.”

Volgens Müller herinner die Kruger 200-vieringe ons dat pres. Paul Kruger se nalatenskap nie vergete is nie. “Die reis van die ewebeeld-standbeeld na Orania is ’n pelgrimsreis, ’n bevestiging dat daar steeds Afrikaners is wat glo in die behoud van hul identiteit. Maar hierdie gebeure wys ook hoe dringend dit is dat ons, ons monumente beskerm, ons geskiedenis verdedig en ons erfenis leef.

“Ons doen ’n beroep op die publiek, op universiteite en die owerhede, om nie die erfenis van die Afrikaner as ’n bedreiging te sien nie, maar as ’n ryk deel van Suid-Afrika se groter verhaal.  Om ’n standbeeld te beskadig of te weier, is om ’n gemeenskap se wortels weg te kalwe.”

Volgens Brand, wat self ’n nasaat van Paul Kruger is, het dié staatsman self gesê: ‘Ek rus in God se genade.’ Mag hierdie woorde ons inspireer om nie moed op te gee nie. Die beeld mag wankel, maar die volk staan vas.”

Een van die brandwagte in die Paul Kruger-beeldegroep op Kerkplein se voet is afgesny.
’n Geweerloop en bandolier van een van die brandwagte in die Paul Kruger-beeldegroep op Kerkplein is afgesny.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button