Skok ná wrede moord in die middestad
Die Potchefstroomse gemeenskap is in rou ná ’n 31-jarige man Sondagoggend met ’n steekwond in die nek dood in die middestad gevind is.
Die polisie ondersoek ‘n saak van moord nadat die liggaam van Chris van der Wal (31) Sondag in die vroeë oggendure in die middestad gevind is.
Brigadier Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, sê die polisie in Potchefstroom ondersoek ‘n saak van moord nadat die liggaam van ‘n 31-jarige man in die vroeë oggendure van Sondagoggend, 28 September, gevind is.
“Die oorledene is met ‘n steekwond in die nek gevind. Niemand is op hierdie stadium in hegtenis geneem nie en ondersoeke na die saak is aan die gang.”
Chris het by Gasworld in die dorp gewerk.
Johan Barnard, Chris se swaer, sê hy was ‘n spontane, vriendelike en behulpsame seun wat sy familie altyd eerste gestel het.
“Hy laat sy familie agter wat hom vir altyd gaan mis en hy sal altyd in ons harte voortleef,” het Johan Barnard gesê.



