Volkies het die afgelope naweek aan die Noordvaal sewes toernooi in Nylstroom aan deelneem.
Die Potchefstromers eindig algeheel 9de, en bring die Bowl-trofee terug Potchefstroom toe.
Dit was ‘n strawwe kompetisie wat die spelers behoorlik getoets het. Volkies was in ‘n poel saam met Heidelberg Volkies, Zwartkop en Ellisras.
Volgens Mighael de Beer, afrigter van Volkies, was dit ‘n lang seisoen.
“Dit was nie maklik nie, ons moes ver ry, en dan het ons van die beste spanne in ons poel gehad. Dit was ‘n lang seisoen vir die spelers. Ek voel dit aan my lyf, so ek kan nie dink hoe voel hulle nie,” het De Beer verduidelik.
Die seisoen het na agt maande tot ‘n einde gekom. Volkies kyk terug op ‘n goeie seisoen waarop hulle volgende jaar sal wil bou.



