Voormalige speurhoof oorlede na hartaanval
Brig. Kiewiet van Zyl (69), was vir 42 jaar in die polisie en word as 'n ware staatmaker onthou.
Die oud-provinsiale speurhoof en bekende Potchefstromer, brig. Kiewiet van Zyl, is gistermiddag (Donderdag, 15 Januarie) weens ‘n hartaanval oorlede.
Volgens sy vrou, Lauren, was die 69-jarige Van Zyl besig om fiets te ry toe hy die hartaanval gekry het.
Nooddienste het 16:25 ‘n oproep ontvang en het kort daarna op die toneel in Strausslaan, Vanderhoffpark gearriveer, maar Van Zyl was toe alreeds oorlede.
Van Zyl was 42 jaar in die polisie waar hy verskeie belangrike posisies beklee het. Na sy aftrede was hy ook vir die afgelope vier jaar die voorsitter van die Mooirivier tak van die Bond van Oud-Polisiebeamptes.
Van Zyl was ook onder Potchefstromers bekend vir sy werk by die Cachet Park CID waar hy sy vaardighede en kennis ingespan as die hoof operasionele bestuurder. Hy het vanaf 2017 tot en met Desember 2020 daar opgetree.

Hy het eers saam met Frans Kruger (hoof uitvoerende bestuurder in 2017) en toe saam met met prof. Fika Janse van Rensburg (hoof uitvoerende bestuurder vanaf 2018-2020) en ander kern rolspelers gehelp om hierdie suksesvolle nie-winsgewende maatskappy van die grond af op te bou.
“Kiewiet het rugraatrol gespeel in die vesting van die Cachet Park CID om al die praktyke daar te stel. Ons eer Kiewiet se nagedagtenis. Hy het vir ons gemeenskap as polisielid, sowel as sy werk by die Cachet Park CID ontsaglik baie beteken,” het Janse van Rensburg gedeel.



