Onwettige studentebehuising skep infrastruktuur-en veiligheidskwessies
Huise wat ontwerp is vir vier of vyf mense word aangepas om twintig of selfs dertig studente te huisves, dikwels sonder enige goedkeuring of inspeksie.
Ongekontroleerde studentebehuising is besig om ‘n groot krisis in Potchefstroom te raak. Gesinshuise word onwettig omskep in oorvol studentekoshuise, sonder die nodige goedkeurings, sertifikate of veiligheidstandaarde.
Volgens DA-wyksraadslid vir Wyk 7, André Klopper, is die probleem lankal nie meer net ’n administratiewe kopseer nie, maar ’n regstreekse bedreiging vir menslike veiligheid en munisipale infrastruktuur.
“Huise wat ontwerp is vir vier of vyf mense word aangepas om twintig of selfs dertig studente te huisves, dikwels sonder enige goedkeuring of inspeksie,” – André Klopper
Infrastruktuur onder geweldige druk
Die gevolge van hierdie oorbevolking is reeds sigbaar. Rioolstelsels en waternetwerke word oorlaai, met herhaalde rioolstortings wat onder meer in Dwars- en Jan Smutsstraat aangemeld is. Elektrisiteitsnetwerke kreun onder onwettige aansluitings en hoë verbruik, wat lei tot gereelde kragonderbrekings en plaaslike foute. Klopper waarsku hieroor:
“Wanneer infrastruktuur ontwerp word vir ’n sekere digtheid en dit skielik verdriedubbel, is ineenstorting onvermydelik.”
Ernstige veiligheidsrisiko’s
Nog meer kommerwekkend is die gebrek aan basiese veiligheid by baie van hierdie onwettige studentebehuisings. Volgens Klopper word geboue dikwels bewoon sonder geldige okkupasiesertifikate, brandveiligheidsgoedkeuring of elektriese sertifikate.
“Sonder behoorlike nooduitgange, brandmure en gesertifiseerde bedrading is hierdie plekke letterlik brandstrikke. Dit is nie ’n kwessie van of iets gaan gebeur nie, maar wanneer.”
Hy beklemtoon dat dit nie bloot papierwerk is nie, maar lewensreddende vereistes. Vir inwoners wat reeds jare lank in die betrokke woonbuurte woon, het die situasie ondraaglik geword.

Inwoners deel hul frustrasie
Rudolph van Heerden, ’n huurder wat reeds vyf jaar in Silverstraat woon, sê die veranderinge het die area se leefbaarheid drasties aangetas.
“Ek is self ’n huurder en woon al vyf jaar hier. Huise word verkoop, agente jaag net geld na, en dan word daar onwettig gebou en ’n oormaat studente ingedruk,” sê Van Heerden.
Volgens hom plaas dit enorme druk op bestaande infrastruktuur.
“Die rioolstelsels is onder geweldige druk, daar is ’n ernstige brandgevaar, maar niks word gedoen nie. Ons klagtes val op dowe ore.”
Hy voeg by dat die sosiale impak ewe groot is.
“Daar word in die strate geskree, daar is groot partytjies, en dit het eenvoudig onaangenaam geword om hier te bly.”
Wat sê die wet?
Eiendomme wat as studentebehuising gebruik word, moet behoorlik hersoneer wees, voldoen aan SPLUMA (die Wet op Ruimtelike Beplanning en Grondgebruikbestuur), beskik oor goedgekeurde bouplanne en geldige veiligheidsertifikate.
“Daar is ’n proses, en dit is nie onderhandelbaar nie. Nakoming beskerm studente, inwoners, eiendomseienaars én die munisipaliteit.”
Munisipaliteit verskaf nog nie terugvoer nie
Klopper het reeds sedert November 2024 herhaaldelik lyste van onwettige eiendomme, adresse en fotobewyse aan J.B. Marks Plaaslike Munisipaliteit oorhandig.
“Ek het my plig gedoen. Ek het rapporteer, opgevolg en geëskaleer. Die probleem is nie ’n gebrek aan inligting nie, dit is ’n gebrek aan optrede.”
Ten tyde van publikasie het J.B. Marks Plaaslike Munisipaliteit nog nie op navrae oor die beweerde onwettige studentebehuising en die stand van afdwinging gereageer nie. Klopper het die burgemeester en munisipale bestuur formeel in kennis gestel dat voortgesette versuim om op te tree nie net ongrondwetlik is nie, maar die munisipaliteit ook blootstel aan regstappe.
NWU in gesprek met munisipaliteit
Louis Jacobs, woordvoerder van die Noordwes-Universiteit (NWU), sê die universiteit se kantoor is reeds in gesprek met die JB Marks-stadsbeplanningsdepartement, wat die relevante inligting oor soneringskwessies verskaf het. Volgens hom het Stadsbeplanning bevestig dat hierdie aangeleenthede binne die mandaat van die stadsraad val en deur die munisipaliteit afgedwing en gemonitor moet word.
“In dié verband is ’n vergadering vir volgende week geskeduleer met die dorpsbeplanningsinspekteur, die hoofdorpsbeplanner en ’n senior dorpsbeplanner om die aangeleenthede verder te bespreek en samewerking en belyning tussen alle rolspelers te verseker,” stel Jacobs.
Hy verduidelik dat ’n soneringssertifikaat tans deel vorm van die opsionele ondersteunende dokumentasie vir akkreditasie, maar dat daar ooreengekom is dat dit vanaf die volgende akkreditasiesiklus ’n verpligte vereiste sal wees.
“Die doel van ons betrokkenheid met die stadsraad is om te verseker dat geakkrediteerde diensverskaffers betyds kennis ontvang van hierdie verandering, saam met die nodige inligting en kontakbesonderhede, sodat hulle hul sake betyds kan regstel.”
Jacobs beklemtoon dat dit nie binne die universiteit se mandaat val om munisipale verordeninge af te dwing of te polisieer nie.
“Ons rol is beperk tot ondersteuning waar moontlik deur toegang tot akkurate inligting en die korrekte prosesse te fasiliteer.”
Hy sê die akkreditasieriglyne stel dit duidelik dat alle aangeleenthede rakende bouplanne, soneringsvereistes, gesondheids- en veiligheidsnakoming of enige ander munisipale regulasies streng binne die jurisdiksie van die plaaslike munisipaliteit val, en dat nie-nakoming gronde kan wees vir die onmiddellike herroeping van akkreditasie.
In ’n afsonderlike skrywe aan die Noordwes-Universiteit (NWU) het Klopper versoek dat ’n volledige lys van geakkrediteerde NSFAS-studentebehuising vir 2026 beskikbaar gestel word, veral aangesien die oorgrote meerderheid van hierdie eiendomme binne Wyk 7 geleë is.
“Ons doel is nie om vooraf skuld toe te ken nie, maar om die feite vas te stel en seker te maak studente word nie in onveilige, onwettige geboue geplaas nie.”
Volgens Jacobs kan die universiteit nie ’n meer gedetailleerde lys van verhuurders aan Klopper verskaf as wat reeds op die NWU-webwerf gepubliseer is nie.
“Daar is versoek vir addisionele persoonlike inligting, maar dit mag nie ingevolge die POPI-wet bekend gemaak word nie, aangesien inligting slegs vir die doel waarvoor dit oorspronklik ingesamel is, gedeel mag word nie.”
Hy voeg by dat die universiteit se doel is om die JB Marks-stadsraad te ondersteun deur te verseker dat verhuurders oor akkurate inligting en toepaslike kontakbesonderhede beskik.



