Local newsNewsNews

Werkloosheid in die Noordwes daal met 6,2%

Die land se amptelike werkloosheidsyfer het met slegs 0,5 persentasiepunte afgeneem.

Die Noordwes-provinsie begin die vrugte pluk van doelgerigte ekonomiese ingrypings, met die amptelike werkloosheidsyfer wat op ’n jaar-tot-jaar-basis met ’n beduidende 6,2 persentasiepunte gedaal het.

Volgens die jongste Kwartaallikse Arbeidsmagopname van Statistiek Suid-Afrika het die land se amptelike werkloosheidsyfer met slegs 0,5 persentasiepunte afgeneem. Teen dié agtergrond staan Noordwes uit met die grootste daling in die land.

In die laaste twee kwartale van 2025 is bykans 80 000 nuwe werksgeleenthede in die provinsie geskep. Die landbou-, konstruksie- en openbare dienssektore het die voortou geneem en as grootste bydraers tot indiensneming na vore getree.

Premier Lazarus Mokgosi sê die implementering van die Provinsiale Groei- en Ontwikkelingstrategie is goed op dreef en begin tasbare resultate oplewer.

“Ons het verlede jaar die Groei- en Ontwikkelingstrategie amptelik aanvaar om ekonomiese groei te dryf en werksgeleenthede te skep. Ons sien nou ’n duidelike opwaartse trajek in ons werkskeppingsinisiatiewe wat gelei het tot ’n vermindering van meer as ses persent in werkloosheid,” het Mokgosi gesê.

Hy waarsku egter dat die uitgebreide werkloosheidsyfer, wat ook ontmoedigde werksoekers insluit, in dieselfde tydperk met slegs 1,9 persentasiepunte gedaal het. Dit bly volgens hom ’n rede tot kommer en dui daarop dat verdere ingrypings noodsaaklik is.

Tydens sy onlangse deelname aan die debat oor die Staatsrede het Mokgosi verskeie maatreëls aangekondig om werkloosheid in die provinsie verder te bekamp.

Een van die sleutelprojekte is die herlewing van Pilanesberg Internationasionale Lughawe om kommersiële aktiwiteite in die toerismesektor in en om Moses Kotane Plaaslike Munisipaliteit te stimuleer.

“Hierdie Vrydag onderteken ons ’n memorandum van verstandhouding met die nasionale Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur om die volle implementering van ons planne vir die lughawe te verseker. Ek is hoopvol dat hierdie aktiwiteite verdere werksgeleenthede vir die mense van Noordwes sal ontsluit,” het die premier afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button