Piet se passie vir tuinmaak skiet al 27 jaar wortel
Dit is nie net Piet se vaardigheid wat mense beïndruk nie, dit is sy ingesteldheid. Sy nederigheid, konsekwentheid en sy dankbaarheid maak hom besonders.
Daar is mense wat stilweg hul merk maak, nie deur groot woorde nie, maar deur jare se harde werk, nederigheid en onwrikbare toewyding. Piet Morake is een van daardie mense.
Op 56-jarige ouderdom kan Piet terugkyk op 27 jaar as tuinier by LaFleur Gastehuis. ’n Plek wat vandag bekend is vir sy pragtige tuin en rustige buitelig venue. Maar agter elke plant wat blom en elke groen grasperk wat perfek versorg is, lê die hande en hart van een man.
“Ons tuinier, oom Piet werk al jare by LaFleur Gastehuis,” vertel Marise Papke van LaFleur.
“Hy hou ons tuin alleen en persoonlik in stand. Hy daag elke dag op tyd en dood tevrede by die werk op. Hy het nog nooit ‘n dag in sy lewe gekla nie en doen sy werk voluit.”
Dit is nie net Piet se vaardigheid wat mense beïndruk nie, dit is sy ingesteldheid. Sy nederigheid, konsekwentheid en sy dankbaarheid maak hom besonders. “Sy houding is so inspirerend. Mens kan beslis by hom leer,” sê Marise.

Piet se storie begin lank voor LaFleur. As jong seun het hy saam met sy ouma begin tuin maak, daar het hy die liefde vir die grond en die natuur ontwikkel. Sy oom het hom later meer praktiese vaardighede geleer, selfs hoe om met ’n petrolsaag te werk. Dit was die begin van ’n lewenslange passie.
In 1999 het hy sy pad na LaFleur Gastehuis gevind, en sedertdien het hy nie teruggekyk nie. “Ek is baie lief vir my werk,” sê Piet eenvoudig. “Ek sal niks anders wil doen nie.”
Maar sy lewe gaan oor meer as net werk. Piet is al sedert 1988 met sy vrou getroud, en saam het hulle vier kinders grootgemaak, drie dogters en een seun. Die lewe is nie altyd maklik nie. By hul huis is daar nie lopende water nie, en oor naweke help Piet sy vrou om water aan te dra en skoon te maak. Tog bly hy dankbaar en positief.

Een van die mooiste dele van Piet se storie is sy onwaarskynlike vriendskap met ’n klein worshondjie op die perseel. Haar naam is Lizzy, maar vir hom is sy “Spokie.” ’n Naam wat sy gekry het omdat sy so baie blaf. Die twee is onafskeidbaar. Sy volg hom oral en is letterlik sy skaduwee deur die dag. Wanneer hy oor naweke nie werk toe kom nie, wag en treur sy tot hy weer Maandag opdaag.

“Ek dink nie Oom Piet het al ooit in sy lewe enige erkenning ontvang nie,” sê Marise. “En daarom is hierdie so gepas en soveel meer spesiaal.”
In ’n wêreld waar mense dikwels raakgesien wil word vir groot prestasies, herinner Piet ons dat ware inspirasie lê in getrouheid, harde werk en ’n goeie hart. Sy lewe is ’n stille getuienis dat elke taak, hoe eenvoudig ook al, met trots en liefde gedoen kan word.
En dalk is dit presies hoekom sy tuin so mooi is.



