Fraaiings: Die uitdaging – So maak mens
Essie Bester – Ja, ek weet … Jy brand om die uitdaging te aanvaar, maar waar begin ’n mens? Nét 33 kledingstukke vir 3 lange maande? Die blote gedagte daaraan laat my paniekerig na ’n happie trooskos gryp. Toe onthou ek! My trouring, onderklere en slaapklere is darem uitgesluit. Ek skep so ’n klein bietjie …

Essie Bester –
Ja, ek weet … Jy brand om die uitdaging te aanvaar, maar waar begin ’n mens? Nét 33 kledingstukke vir 3 lange maande? Die blote gedagte daaraan laat my paniekerig na ’n happie trooskos gryp. Toe onthou ek! My trouring, onderklere en slaapklere is darem uitgesluit. Ek skep so ’n klein bietjie moed.
“Dit is eintlik baie maklik,”lig my man ongevraagd sy mening. “Hoe eet mens ’n olifant?” Meteens gaan daar vir my ’n lig aan. Maar natuurlik! Stukkie vir stukkie begin ek my hele klerekas se inhoud op my bed uitpak. Laatoggend lê dit in boude en blaaie voor my. Toe begin ek met ’n meedoënlose besluitnemingsproses en voor middagete lê alles in vier netjiese hopies opgestapel.
My mees geliefde uitrustings beland op hopie een. Ek wéét dit sit goed aan my en ek voel soos ’n miljoen dollar daarin. Hopie twee is dié kledingstukke waarvan ek, om verskeie emosionele redes, sukkel om afstand te doen. Skuldgevoelens oor die duur prysetikette van hierdie impuls aankope kniehalter my keer op keer. Dis meestal kwaliteit kledingstukke waarvan die kleur my nie 100% komplimenteer nie. Of mooi maar ongemaklike potloodrompe en hemelhoë spykerhakke wat nie by my leefstyl pas nie.
Hopie drie word geallokeer vir seisoenale klere. Daardie Camdeboo sybokhaartrui van natuurlike vessel, die dik woljas en snoesige winterserp. Ou, afgeleefde kledingstukke wat lankal hul fleur verloor het, kry lêplek op hopie vier. ’n Paar jeans wat nie nóg ’n keer gelap kan word nie, ’n geskeurde romp en ’n klompie uitgerekte T-hemde.
Laasgenoemde hopie word as onredbaar geklassifiseer en sommer dadelik uitgegooi. Met die winter op hande is hopie drie nou van kardinale belang. Na die koue seisoen gaan ek dit in ’n kartondoos pak, netjies merk en byderhand stoor. Vanselfsprekend word die eerste hopie kledingstukke vol agting teruggepak in my klerekas. Toe staal ek myself emosioneel en pak hopie twee se uitrustings vinnig in ’n kartondoos. Vir een hele maand gaan ek dit buite sig bêre. Daarna gaan ek, sonder seremonie, daarvan ontslae raak.
Na hierdie brawe eerste stap sien ek lag-lag kans vir die volgende stap. Nét 33 kledingstukke vir 3 maande lank. “Dis peanuts!” dink ek. Maar sal ek dit kan volhou?



