SportSport

Afrigter wil liefde vir atletiek by Promosa se jonges kweek

Agter elke sweetdruppel, seer spier, besering en struikelblok is daar nog ’n tree, nog ’n asemteug, ’n ekstra bol energie en ’n vasberadenheid om die eindstreep weer en weer te haal. Hierdie stelling weerspieël die lewenstyl en paadjie wat Clyde Stoffberg as atletiekster sowel as kranige afrigter moes beleef tot waar hy nou is. Die …

Agter elke sweetdruppel, seer spier, besering en struikelblok is daar nog ’n tree, nog ’n asemteug, ’n ekstra bol energie en ’n vasberadenheid om die eindstreep weer en weer te haal.

Hierdie stelling weerspieël die lewenstyl en paadjie wat Clyde Stoffberg as atletiekster sowel as kranige afrigter moes beleef tot waar hy nou is. Die paadjie was nog nooi reguit en sonder ompaaie nie, maar die sukses en wete dat daar ’n verskil op sy lewenspad met elke tree gemaak word, is wat hom dag na dag aan die gang hou. Atletiek is sy vurige passie en hardloop is die manier hoe hy nuwe asem in die lewe van Promosa se minderbevoorregte jeug wil blaas.

Stoffberg, die voorsitter van die Promosa Brother and Sisterhood Atletiekklub, is op ’n missie om seker te maak dat hy sy deel doen en sy kennis rondom die belangrikheid van fiks en aktief bly met sy atletiekkinders deel. “Hardloop is my lewe en dit is so lekker om die kinders ook te help om hulle talente te ontwikkel. Ek voel dat ek moet teruggee aan my gemeenskap. Wat anders het hulle om hier in Promosa te doen? Die geld is skaars en as jy weer sien word ons jongmense vasgevang in dwelms en misdaad. “Ek leer hulle om eerder sport te doen, te hardloop en trots te wees op wat hulle doen. Hulle moet doelwitte in die lewe hê,” meen Clyde.

Voordat Clyde die atletiekklub gestig het, het hy ook nes die wat hy afrig, sy atletiekloopbaan in Promosa begin. Sy atletiek het wel vlam gevat toe hy na Laerskool President Pretorius geskuif het. “Ek was ’n kranige jong atleet en ek het die ander ver gewen.

Ek het uiteindelik iets gekry waarin ek goed was. Ek het baie hard geoefen en baie tyd aan my hardloop- en landloopvaardighede spandeer. Ek kon nooit by Promosa span kry nie, maar na die skuif PP toe het ek baie medaljes en trofeë begin kry,” vertel hy. Clyde het ook verskeie rekords gebreek tydens die jaarlikse interhoër sowel as landloop atletiekbyeenkomste.

Hy het ook Noordwes kleure verwerf en op die SA Skolebyeenkomste deelgeneem. Sy magdom medaljes wat hy vanaf 1992 al verower het, lê in talle houers soos versamelstukke vir elke tree, seer spier, sweetdruppel en eindstreep wat hy al deurkruis het. “Hierdie een was toe ek aan die Two Oceans deelgeneem het.

Hier is een wat ek gewen het toe ek in 1997 klaargemaak het,” vertel hy verskillende stories terwyl hy sy medaljes  uitsoek. Clyde het op Hoërskool by Potchefstroom Gimnasium ook aan verskeie ander sportsoorte deelgeneem soos karate, rugby en tweekamp, maar hardloop was is en sal altyd sy grootste liefde bly – dit is juis waar hy die ander liefde van sy lewe, sy vrou Chantel ontmoet het.

“Ek het besluit om ’n klub agt jaar terug te begin. Ek het net twee atlete gehad waarvan Chantel een van hulle was. Ek het nooit ’n afrigter gehad toe ek so jonk was nie – ek wil die kinders daardie geleentheid gee.”“Chantel is ’n baie goeie langafstandatleet. Sy deel ook my passie en dit is lekker,” vertel Clyde, terwyl Chantel skamerig saamstem.

Clyde het sedertdien ongeveer dertig atlete in die klub wat hy self op die been gebring het en hoewel daar gedurig finansiële struikelblokke is glo hy dat dit net nog ’n heuwel is om te oorwin – iets wat hy altyd doen as hy hardloop.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button