SportSport

Hat-trick of the Week (24 September)

1.Skolekrieket bly tops in Potch: Ek het laasweek besluit om ‘n oog en ‘n oor op Noordwes se hoërskoolkrieket te gooi en ek kan beaam dat dit ‘n uitstekende ervaring was. Nie net omdat die krieket van topgehalte was nie, maar ook omdat die organisering en gasvryheid daartoe gelei het dat almal hulself geniet het. …

1.Skolekrieket bly tops in Potch:
Ek het laasweek besluit om ‘n oog en ‘n oor op Noordwes se hoërskoolkrieket te gooi en ek kan beaam dat dit ‘n uitstekende ervaring was. Nie net omdat die krieket van topgehalte was nie, maar ook omdat die organisering en gasvryheid daartoe gelei het dat almal hulself geniet het. Ouers het onder gazebo’s langs die veld gesit en aan biltong knibbel terwyl hulle kinders hulself op die krieketveld geniet.

Die daglange wedstryd gee ook ‘n kans vir kuier, waar ouers met mekaar gesels en bymekaarkom. Die atmosfeer is rustig en af en toe word daar gevra wat die telling is, waarna daar ‘n tevrede “dis goed” of ‘n meer benoude “komaan manne!” geuiter word. Dit is weer eens bewys dat krieket ‘n Jintelman se spel is.

2.NWU PUK rugby is perdfris en gesond:

Dit kon ’n mens dadelik aflei met hulle ambisieuse vertoning teen Raiders in Alberton verlede Vrydagaand in die Pirates Groot Uitdaagliga halfeindrondte wat hulle 32-3 gewen het. Die Pukke sou Woensdag teen die Universiteit van Johannesburg (UJ) in Johannesburg in die eindstryd te staan kom.

Albei spanne gaan gerat wees vir hierdie kragmeting en dit gaan interessant wees om te sien of UJ die Puk-masjien sal kan klop. Pukke afrigter, Burger van der Westhuizen, sukkel nog met ‘n paar beserings, maar dit behoort nie ‘n probleem te wees nie. Teen druktyd was daar nog nie ‘n uitslag nie, aangesien die wedstryd eers om 21:00 plaasvind.
3. Bestaan daar nog iets soos tradisionele skolesport?
Sekere mense gaan dadelik met my verskil en sê dat rugby, krieket, hokkie en netbal steeds sterk figureer en die topsporte in die tradisionele skoolopset is. Dit is tog waarna almal uitsien, waaroor die groot “derbies” gaan. Maar wat van die skoolkinders wat nie altyd die kans, talent of liggaamsbou het om eerstespan rugby te speel nie? Ek dink dit is juis een van die redes waarom skoolkinders deesdae presteer in sportsoorte soos muurbal, bergfietsry, onderwaterhokkie en veerpyle.

Sport is universeel en dit gee enigiemand van enige ras, klas of geslag die geleentheid om op ‘n sportveld of baan te presteer. Skole gee al meer aandag aan hierdie sportsoorte en kinders verteenwoordig die skole al by hierdie byeenkomste.

Kyk na die bergfietsreeks as ‘n voorbeeld waar Volkies trots in hul Volkieklere koning gekraai het. Elke skoolkind wil presteer, trots voel en vereer word. Dink net wat kon gebeur het as kinders vanaf ‘n jong ouderdom jare gelede daaraan blootgestel kon wees!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button