Springbokke sal moet uithaal en wys teen Samoa
80 minute is al wat in die pad staan van ‘n interessante hoofstuk in Springbokrugby. Hierdie 80 minute teen Samoa Saterdag vir die stryd om die Wêreldbeker gaan bepaal of ons eendag een van twee stories aan ons kinders gaan vertel. Die eerste storie gaan heel moontlik wees dat dit een van die donkerste weke …
80 minute is al wat in die pad staan van ‘n interessante hoofstuk in Springbokrugby.
Hierdie 80 minute teen Samoa Saterdag vir die stryd om die Wêreldbeker gaan bepaal of ons eendag een van twee stories aan ons kinders gaan vertel.
Die eerste storie gaan heel moontlik wees dat dit een van die donkerste weke in SA Rugbygeskiedenis was. Ons sal mompel en vertel maar eintlik wil ons die geskiedenis uitwis. Die tweede storie gaan dalk wees oor hoe ons trots was om weer die Springbokke te ondersteun en dat hierdie wedstryd teen Samoa die ommeswaai was wat ons die Wêreldbeker laat wen het.
Watter storie ons gaan vertel is nie in ons hande nie, maar in die 15 manne s’n wat Saterdag op die veld op Villa Park in Birmingham gaan uitdraf.
Daar word gesê dat ’n mens nie werklik weet hoe dit voel om in ‘n spreekwoordelike swart rugbygat te wees totdat ‘n span op die rand daarvan staan nie. Die rand tussen swakste Springbok-wêreldbekerspan of beste terugvegpoging in rugbygeskiedenis gaan Saterdag geskryf word.
Dit sal dan later vertel word en daaroor om braaivleisvure met ‘n glas bier in die hand gesêls word.
Die vertoning of eerder ‘n gebrek daaraan teen Japan het baie rugbyliefhebbers moedeloos gemaak. Na die wedstryd het dit behoorlik gegons op sosiale media. Op my Facebookblad het mense wat gewoonlik nie ‘n skrum van ‘n lynstaan kan identifiseer nie, kommentaar gelewer oor die Bokke – tog bly hulle trots Suid-Afrikaans, trots Bokke.
Dit is egter die rugbykultuur wat ons in Suid-Afrika het en die Bokke skuld die publiek alles in die volgende wedstryd. Dit is nou maak of breek en die volgende 80 minute wat ‘n Springbokspan rugby speel gaan oorwinning of mislukking bepaal. Die bal is in julle hande Bokke!



