Luiperds druk deur danksy Meel se skopvoet
Sjoe, dit was amper. Die Luiperds het danksy ‘n strafdoel deur die ervare Meel Engelbrecht in die laaste oomblikke van die wedstryd teen Grens met twee punte gewen: 32-30. Feit is, die Luiperds is nog onoorwonne en spog nou met 9 bonuspuntoorwinnings om met 45 ligapunte voor te loop in die liga. Die naaste aan …
Sjoe, dit was amper.
Die Luiperds het danksy ‘n strafdoel deur die ervare Meel Engelbrecht in die laaste oomblikke van die wedstryd teen Grens met twee punte gewen: 32-30.
Feit is, die Luiperds is nog onoorwonne en spog nou met 9 bonuspuntoorwinnings om met 45 ligapunte voor te loop in die liga. Die naaste aan hulle is die Griffons, verlede jaar se eerstligakampioen met 27 punte, dan volg die span wat die Luiperds verlede jaar in die halfeind laat struikel het, die Valke met 24 en die Arende is in die vierde plek met 22.
Boland en Grens kan nie meer deurdring na die halfeind nie. Die Valke speel Saterdag tuis in Kemptonpark teen die Luiperds en sal wil wen om in die tweede plek te bly om ‘n tuis halfeind te kry. Die Luiperds is reeds verseker van ’n tuishalfeindstryd.
Die Griffons moet George toe reis vir ‘n bepaling teen die Arende. Wen die Arende en die Valke verloor, skuif die Valke af na die vierde plek, wat dan ‘n herhaling van verlede jaar se halfeind teweeg bring: Luiperds teen die Valke.
Om terug te keer na Saterdag. Die Luiperds het al hulle plaasvervangers in die beginspan ingespan en die span is deur skrumskakel Malherbe Swart op die veld gelei. Dit het goed gegaan met die span en hulle gaan drink water met ‘n handige voorsprong: 21-3. Die bonuspuntdrie word so halfpad deur die tweede helfte aangeteken en met die telling op 26-6 het dit gelyk of die Luiperds met die telling gaan weghardloop.
Dit was toe glad nie so nie: Die Grens se Bulhonde kry hulle tande terug en byt vas en teken drie doele aan om die voortou te neem: 27-26. Die eerste van Meel Engelbrecht se senutergende strafskoppe plaas die Luiperds weer voor (29-27), maar Grens se Zono Olivier slaag weer om sy span te laat voorloop: 30-29 en toe tref Engelbrecht met die laaste strafdoel om die Luiperds in die spreekwoordelike doodsnikke te laat wen: 32-30.



