SportSport

Luiperds is Eersteligakampioene na tweede helfte slagting

’n Kombinasie van massiewe verligting en onbeheerlike blydskap het vanaand op Olënpark geheers met die Luiperds wat vir die eerste keer die Absa Curriebeker Eersteliga titel met ’n 44-20 oorwinning teen die SWD Arende verower het. Hierdie gedeelde gevoel kan ook na die wedstrydpatroon toegevoeg word waar die eindstryd ‘n storie van twee verskillende helftes …

’n Kombinasie van massiewe verligting en onbeheerlike blydskap het vanaand op Olënpark geheers met die Luiperds wat vir die eerste keer die Absa Curriebeker Eersteliga titel met ’n 44-20 oorwinning teen die SWD Arende verower het.
Hierdie gedeelde gevoel kan ook na die wedstrydpatroon toegevoeg word waar die eindstryd ‘n storie van twee verskillende helftes was.
In die eerste helfde was die Luiperds 20-3 agter na 20 minute en die skare moes gedink het dat die eindstrydspook terug was in Potchefstroom. Die manne in rooi en groen moes ’n paar benoude oomblikke op verdediging beleef met Alshaun Bock, linkervleuel en Luzuko Vulindlu, binnesenter, wat lag-lag vir die Arende gaan druk het. Die Arende se Leighton Eksteen het ook goed pale toe geskop. Net voor rustyd het die Luiperd danksy  haker, Dane van der Westhuizen, na ’n rolmaalbeweging hulle eerste drie gedruk – ’n taktiek wat sappige vrugte vir die tuisspan afgewerp het. Die rustydtelling was 20-10 in die Arende se guns.
Die woorde in die Luiperdskleedkamer het beslis ’n groot impak gehad met ’n totale ander span wat op die veld gedraf het. Die Luiperds was ratser, honger en het veral in die losgemaal begin domineer. Die Arende kon geen punte in die tweede helfte aanteken nie met die Luiperds wat 31 onbeantwoorde punte gebrul het.
Dit was ’n verstommende terugvegpoging wat die kwaliteit van die span beklemtoon het.

Die Luiperds se Rhyno Smith het in die 50ste minuut spasie op die veld uitstekend benut om ’n drie vir sy spanmaat Francois Robbertse te skep. Die Luiperds se kaptein, Juan Language het minute later die voorbeeld gestel en sy span die voorsprong gegee met nog ’n skitterende rolmaalbeweging. Die Luiperds was nou voor in die koor en die momentum was nou stewig aan hulle kant.
Die Arende se vlerke was geknip toe Marno Redelinghuys en Robert Kruger nog twee drieë gaan druk het wat die telling tot by 34-20 laat strek het. Redelinghuys het veral ’n goeie wedstryd gehad en het met die speler van die wedstryd toekenning weggestap.
Die oorwinning was veral bevredigend vir Luiperds afrigter, Robert du Preez, wat nou sy laaste wedstryd as afrigter met ’n bekeroorwinning vier.
“Dit was ’n harde wedstryd maar die ouens het teruggeveg en ons wou nie die seisoen sonder die trofee eindig nie. Ons het besluit om ons alles te gee,” het Redelinghuys na die eindfluitjie gesê.
Die Arende se kaptein, Davon Raubenheimer was trots op sy manne en meen dat hulle ongelukkig was om die wedstryd te verloor nadat hulle voorgeloop het.
Nietemin het die Luiperds die oorwinning verdien na hulle nes die warrelwind wat oor Olënpark gewaai het ook hulle opposisie in die tweede helfde met stof in hulle oë gelaat het.

Luiperds 44 (10): Drieë: Dane van der Westhuyzen, Francois Robertse, Juan Language, Marno Redelinghuys, Robert Kruger, Bart le Roux. Doelskoppe: Meel Engelbrecht (4). Strafdoele: Engelbrecht (2).
Arende 20 (20): Drieë: Alshaun Bock, Luzuko Vulindlu. Doelskoppe: Leighton Eksteen (2). Strafdoele: Eksteen (2).

Foto’s van die wedstryd is hier beskikbaar: https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/4079/fotos-luiperds-se-bekeroorwinning-in-fokus/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button