Groot Rugby League verwikkelinge kom
Potchefstroom Rugbyklub het groot planne en die Stadsraad is gereed om hand by te sit. Die voorsitter van die klub, dr. Jan Janse van Rensburg en sy bestuur klop aan die deur van die stadsraad om na ‘n paar belangrike sakies om te sien wat die klub in wese raak. Die uitvoerende burgemeester van Tlokwe, …
Potchefstroom Rugbyklub het groot planne en die Stadsraad is gereed om hand by te sit. Die voorsitter van die klub, dr. Jan Janse van Rensburg en sy bestuur klop aan die deur van die stadsraad om na ‘n paar belangrike sakies om te sien wat die klub in wese raak.
Die uitvoerende burgemeester van Tlokwe, rdl. Kgotso Khumalo, is die ere-beskermheer van die klub en op die oog af sal die Raad pa moet staan vir ’n paar belangrike take wat by die klub aangepak moet word.Die klubgebou is die eiendom van die Raad en belangrike opgradering moet gemaak word aan die elektriese bedrading, die kleedkamers, lekkende pype, warmwaterstelsels, asook die verskuiwing van die Potch Dorp se naambord na Stasieweg, sodat almal kan sien waar die klub geleë is.
Die klubgronde se omheining moet vervang word, terwyl die onthaalgedeelte van die klub omskep moet word waar veral vroue en kinders kan ontspan.
Die natlei van die velde is ’n bonus wat reeds deur die burgemeester belowe is, terwyl ’n spesiale trekpleister om veral sakelui by die klub te kry, ’n geheim is tot tyd en wyl uitsluitsel daaromtrent verkry is.
Afgesien hiervan moet die rugbypale geverf word en vyf vlagpale sal voor die hoofgebou pryk. Die pale sal vir die vlae wees van die stadsraad, die klub, die Western Warthogs, provinsiale Rugby League en die Western Vikings, Potch Dorp se Rugby League-span.Verskeie afdelings van die stadsraad is reeds deur die bestuurder: Gemeenskapsdienste van die Raad, mnr. Pieter Labuschagne opdrag gegee om hand by te sit.
Skoolhoofde van verskeie laerskole in Potchefstroom woon vanmiddag (Donderdag) ‘n baie spesiale geleentheid by wat deur die uitvoerende burgemeester van Tlokwe, in samewerking met die Departement van Onderwys en Rugby League Suid-Afrika, gereël is.
Tydens die geleentheid sal ‘n spesiale opvoedkundige projek wat as “Een Gemeenskap / One Community” bekendstaan, verduidelik word voordat dit binnekort geïmplementeer word. Die projek behaal groot welslae in Australië, waar Rugby League gebruik word om sekere karaktertrekke en eienskappe by veral jong kinders te ontwikkel.



