Gimmies se krieket-tweeling is soos vinkel en koljander
Die tweeling Marco en Duan Jansen (15), weet hoe om krieket te speel. Nie net is hulle twee van Potchefstroom Gimnasium se krieketuitblinkers nie, maar gaan nou ook vir die vierde jaar in ’n ry vir die Noordwesspan speel, dié keer vir die o.15’s. Albei speel kookwater krieket van kleins af waar hulle werklik begin …
Die tweeling Marco en Duan Jansen (15), weet hoe om krieket te speel.
Nie net is hulle twee van Potchefstroom Gimnasium se krieketuitblinkers nie, maar gaan nou ook vir die vierde jaar in ’n ry vir die Noordwesspan speel, dié keer vir die o.15’s.
Albei speel kookwater krieket van kleins af waar hulle werklik begin uitblink het vir Laerskool Goudstad in Klerksdorp. Die prestasies en trofeë was eindeloos vir die tweeling wat kop en skouers bo die res in hul ouderdomsvlak was.
“Hulle het nog al die jare een ouderdom hoër gespeel. As hulle o.9 is, speel hulle vir die o.10 span. Ek het geweet dat hulle iets spesiaal kan vermag toe ek van jongs af sien hoe baie ball sense hulle het,” vertel hulle pa, Koos.
“Marco het nog altyd vir Duan gehad om vir hom te boul, of andersom. ’n Dag het nie omgegaan wat hulle nie met ’n bal wou speel nie. Al is hulle albei links, kolf hulle wel regs. Ek is dankbaar, want ek kon nie linkerhand handskoene kry toe hulle begin speel het nie!,” lag hul pa.
Die tweeling is die hart en siel van die o.15 span en al kolf en boul hulle albei ewe goed, is hulle benadering tot die spel wat hulle vir ’n slag onderskei. Duan is die aggressiewe krieketspeler wat op ’n vinnige lopietempo kolf en die bouler doelbewus aanval. Marco is nou weer die rustige een wat die bal uitkyk en meer oordeelkundig speel.
“Ek wil die bal so hard as moontlik slaan en die paaltjie uit die grond uitboul, terwyl my broer die druk handhaaf en die kolwers met sy akkuraatheid frustreer,” verduidelik Duan.
“Ek kolf ook op nommer vier,” vertel Duan voor sy broer vinnig beklemtoon dat hy ’n openingskolwer is. “Duan begin nou weer met die boulwerk vir die span en ek boul gewoonlik derde. So wissel ons mekaar af,” noem Marco. ’n Mens kan ook sien dat hulle krieketbenadering ’n spieëlbeeld van hulle persoonlikheid is.
Duan beantwoord meer vrae en wil graag meer vertel, terwyl Marco op sy beurt praat. Desnieteenstaande het hulle albei dieselfde passie vir die sport en hou mekaar op hulle voete met lang oefensessies waar hulle vaardighede opskerp.
“Ons hou albei van krieket in die sin dat grootte nie saak maak nie. Tegniek is belangriker,” sê die tweeling wat skraal gebou is. Hulle glo ook dat volgende jaar se skuif na die eerstespan ’n lekker uitdaging sal wees, maar iets is wat hulle fisies sal toets.
“Ons is wel nooit alleen nie en het mekaar. Ons is broers en vriende en help om mekaar se swak- en sterk punte uit te wys. Ek sal maklik vir Duan sê as hy drooggemaak het,” vertel Marco met ‘n glimlag wat sy broer verstaan.
Het jy geweet?
- Hierdie tweeling het al ’n reeks prestasies buite skoolvlak behaal waar hulle SA kleure vir binnenshuise krieket gekry het.
- Duan se beste boulontleding is 6/14 en Marco s’n is 8/4.
- Duan se kolfgemiddeld die seisoen is 33, terwyl Marco s’n 26 is.



