Panthers netbalklub kweek liefde vir die spel
Netbal is soos ’n langtermyn verhouding. As jy eers ‘n liefdesverhouding met die sport begin, dan kan jy dit nie los nie. Dis is volgens Heleen Humpel, afrigter by die plaaslike Panthers Netbalklub, wat die afgelope tyd groot sukses in die klub behaal het en netbalspelers ’n geleentheid gee om die sport gereeld te beoefen. …

Netbal is soos ’n langtermyn verhouding. As jy eers ‘n liefdesverhouding met die sport begin, dan kan jy dit nie los nie.
Dis is volgens Heleen Humpel, afrigter by die plaaslike Panthers Netbalklub, wat die afgelope tyd groot sukses in die klub behaal het en netbalspelers ’n geleentheid gee om die sport gereeld te beoefen.
Netbaltradisies gaan wel verder as skool- en universiteitspanne met Potchefstroom se eie klub, die Panthers, wat nou naam maak in die stad.
Dit is hier waar netbal uit hart en siel gespeel word vir die afgelope ses jaar wat die klub bestaan.
Heleen vertel dat haar betrokkenheid by die klub op ’n interessante manier begin het toe sy aksie-netbal een aand moes gaan blaas het.
“Na daardie aand het hulle my genooi na hul oefening toe en gevra of ek betrokke wil raak. By die oefening is ek gevra om af te rig en die res is geskiedenis.”Nou is Heleen volstoom betrokke by die klub, wat elke jaar wissel met 20 spelers. Sommige spelers is al jare betrokke terwyl studente kom en gaan soos wat hulle hul grade voltooi.
“Ons is ‘n sosiale klub waar almal welkom is en almal kan speel. Vir die sosiale spelers is daar netbaldae en toernooie vir die pret daarvan. Ons het wel meer ernstiger spelers wat deelneem aan die streek-liga en meer kompeterende netbaldae en toernooie,” verduidelik Heleen die kompetisievlak by die klub.
Die Panthers klub is die grootste in die kontrei en baie kompeterend. Die klub neem tans deel aan die Dr Kenneth Kaunda Noordwes streekliga vir senior spanne en is vir die 2de jaar as wenners aangewys. “Ons neem ook deel aan uitnodiging-netbaldae in Potchefstroom, Parys, Klerksdorp, Hartebeesfontein en Viljoenskroon waar ‘n klomp spanne teen mekaar meeding – ons vorder meestal tot en met die semi’s of die finale,” noem Heleen.
’n Netbalklub het ook ’n klompie voordele wat dit gemaklik maak om sport te beoefen en ook goeie oefening in te kry. Volgens Heleen is daar nog ’n hele aantal voordele van die 7 speler per kant sport. “Voordele is dat mens kan social en saam met vriendinne oefen en iets anders doen as op ‘n treadmill te gaan hardloop. ’n Mens ontmoet ook klomp nuwe mense. Ons het selfs ‘n paar spelers wat nog op skool is, wat saam oefen – hulle kry die geleentheid om teen sterker spelers te speel en ekstra te oefen en meer te leer.
Een van my spelers het nie provinsiale span gekry in haar ouderdomsgroep nie, maar na ‘n seisoen in die klub (en paar ekstra individuele sessies) het sy span gekry,” vertel Heleen opgewonde.
“Mense wat netbal toe kom om fikser te word is ook meer geneig om daarby te hou, omdat hul deel is van ‘n span en hulle nie in die steek wil laat nie – dit is ook lekkerder fiksheid as in sirkels hardloop.
Verder gee dit jonger spelers ook geleentheid om beter te raak en ekstra te werk aan hul tegniek of baanwerk,” voeg sy by.
Heleen noem tot dat mans ook deel van die klub is en dat hulle ook deur die netbalgogga gebyt word – iets wat ’n paar jaar terug vreemd of dalk onwaarskynlik was.
“Netbal is nie net vir vrouens nie – ons het selfs mansspelers wat by ons oefen en deelneem! Een van my mans-spelers is hierdie jaar gekies vir die senior mans provinsiale span.”
Die Panthers het ook groot harte en is juis as die span met harte van goud by die Harties netbaldag in Hartebeesfontein aangewys.
“Ons het die meeste klere ingesamel vir hul netbaldag, waar alles geskenk word aan minderbevoorregtes en liefdadigheidsorganisasies.
Verder hou ons self ‘n rondomtalie elke jaar (dit is volgende jaar in April maand en dit gaan ‘n insameling wees vir Potch DBV), en het ons klomp sosiale aande by die klub.
Ons neem selfs deel aan ‘n nag-liga en nou-en-dan gaan speel ons aksie-netbal. Ons het selfs al vir ‘n klomp Sweedse atlete gewys wat netbal is en hul het by ons kom kuier en saam met ons gespeel.”
Indien spelers betrokke wil raak, kan hulle vir Heleen by 079 506 4186 skakel of op Facebook onder Panthers Netball Club.



