Vikings jag Bears in merkwaardige Rugby League-sege
Sprankelend, aanskoulik, opwindend, spannend! Noem dit wat jy wil, maar die rugby league wedstryd wat die afgelope naweek in Potchefstroom gespeel is, voldoen aan al die voorskrifte uit enige rugby handboek. Potchefstroom Dorp Rugbyklub se Leaguespan, die Western Vikings, het slaags geraak met Boksburg Bears op Dorp se hoofveld. Die wedstryd was ’n naelbytriller wat, …
Sprankelend, aanskoulik, opwindend, spannend! Noem dit wat jy wil, maar die rugby league wedstryd wat die afgelope naweek in Potchefstroom gespeel is, voldoen aan al die voorskrifte uit enige rugby handboek.
Potchefstroom Dorp Rugbyklub se Leaguespan, die Western Vikings, het slaags geraak met Boksburg Bears op Dorp se hoofveld. Die wedstryd was ’n naelbytriller wat, in die doodsnikke, deur die minder ervare en veel ligter Vikingspan met 30-28 gewen is. Hierdie oorwinning het die tonge binne league geledere los, omdat niemand die Potchefstromers kans gegee het teen die meer ervare en swaarder Bears-span nie. Die Bears wat onlangs bo aan die punteleer in die Superliga was, het ‘n venynige knou met die verloor gekry. Die wyse hoe die Western Vikings hul teenstanders met minagting en vreesloos hanteer het, moet as waarskuwing dien vir die ander klubs wat binnekort oor die Mooirivier kom om Potch Dorp se Vikings aan te vat.
“Wat hier gebeur het, was nie net vir League ‘n inspuiting nie, maar dit het rugby in die algemeen ‘n eer aangedoen. Dit is die soort gehalte spel wat toeskouers na leë pawiljoene sal lok,” sê Jan Prinsloo, oud Springbok rugby league legende, wat die Vikings se veggees as fees, uit alle rugby se handboeke bestempel. Heelwat toeskouers het daar geen geheim van gemaak nie dat daar lanklaas soveel effektiewe teenaanvalle, dodelike verdediging en sneltrein rugby uit elke moontlike hoekie van ‘n rugbyveld gesien is.
Vir die voorsitter van die Western Vikings, dr. Jan Janse van Rensburg wat aan die wenkant was, was dit ‘n groot oomblik. Namate die intensiteit van die wedstryd verhoog het en die horlosie die finale minute begin aftel het, was die toeskouers by tye op hul voete. Die Western Vikings het met die afskop na top versnelling oorgeskakel en gou met 14 punte voorgeloop.
Die twee spanne het van die een kant van die veld na die ander kant, die een aanval na die ander geloods en dit was duidelik dat die Bears nie vinnig genoeg van die “blizkrieg” herstel het wat hulle binne die eerste agt minute van die wedstryd getref het nie. Die telbord het aan die gesels gebly en hoewel die Vikings laat in die tweede helfte met twee punte agter was (26 28), was dit nie die einde van die Vikings se veggees nie. Die span het die doellyn van die Bears geteiken en in die laaste minuut die verdedigingslinie van die Bears oopgekloof met ‘n skitter drie van Armand du Preez om sodoende die Bears met twee punte te klop.
“Dit was ‘n ondervinding wat die tier in die tenk van die onervare, ligter Vikingspan wakker gemaak het,” sê Prinsloo. “Hierdie oorwinning is al wat ons nodig gehad het,” sê die hoogs tevrede dr. Janse van Rensburg, wat bygevoeg het dat die afrigters, Wimpie Jacobs, Piet Jordaan en Quintin Dreyer, beslis die krediet moet kry omdat hulle die heelwat ligter en onervare spannetjie sielkundig voorberei het om nie deur groter opponente geïntimideer te word nie.
Op 5 Desember besoek ‘n sterk Westelike Provinsie span Potchefstroom en is daar ook ‘n herontmoeting met die Bears in Boksburg. Potchefstroom Dorp Rugbyklub huisves ook die provinsie se Western Warthogs (Vlakvarke) en hierdie span is ook gerat om ander spanne te wys waar Dawid die spreekwoordelike wortels begrawe het.
Western Vikings: Puntemakers:
Drieë: Thorne Swart, Lorenzo Malgas, Johanco Claassen, Ruan Janse van Vuuren, Johan van Dyk, Armand du Preez. Verdoel skoppe: Albert Griesel



