Pukke kaptein wil naam maak as openingskolwer
Wihan Lubbe, NWU Pukke se openingskolwer en kaptein gaan hierdie jaar se Varsity Kriekettoernooi gebruik om naam te maak. Dit is juis wat hy verlede jaar by die Noordwes Drake gedoen het met ’n klomp goeie vertonings. Hy sien homself nou as een van die meer bekende gesigte in Noordwes Krieket. “Persoonlik glo ek dat …
Wihan Lubbe, NWU Pukke se openingskolwer en kaptein gaan hierdie jaar se Varsity Kriekettoernooi gebruik om naam te maak.
Dit is juis wat hy verlede jaar by die Noordwes Drake gedoen het met ’n klomp goeie vertonings. Hy sien homself nou as een van die meer bekende gesigte in Noordwes Krieket.
“Persoonlik glo ek dat hierdie toernooi my die geleentheid gee om goed te kolf en raakgesien te word, veral met mense wat jou op televisie kan raaksien. Ek wil mense wys wat ek kan doen. ’n Mens moet altyd al jou geleenthede aangryp,” sê die openingskolwer wat sover in die toernooi met ’n blitsvinnige 48 en 37 spog.
“Spangewys wil ons as ’n span wen en ek glo ons het baie diepte en spelers wat die wedstryd in ’n oogwink in ons guns kan swaai. Ek voel baie positief oor ons kanse.
“Een van my grootste korttermyndoelwitte is om ’n honderdtal vir Noordwes aan te teken. Verder sal ek op die langtermyn graag vir die Lions wil speel. As ’n mens kyk na die getal Noordwes spelers wat vir die Leeus speel, lyk die kanse goed,” sê Lubbe positief.
Volgens Lubbe het hy begin glo dat hy sy plek in die Noordwesspan verdien toe hy in ‘’n driedag-wedstryd teen Gauteng-B uitgeblink het.
“Dit is hier waar ek ook een van my grootste sesse geslaan het. Ek onthou die bouler se naam was Lazarus Mokoena. Dit bal het baie mooi van my kolf afgekom.”
Dit is juis sesse en viere wat in die Varsity Kriekettoernooi vir Lubbe gaan saak maak. Hy en openingskolwer Janneman Malan gaan hulle bes probeer om vroeg ’n doring in die vlees van hul teenstanders te wees met hulle aggressie.
“Ons twee kan 60 of 70 in die eerste 6 boulbeurte aanteken, veral as ons aggressief speel .Ons kolf goed saam en ken mekaar se sterk punte.”
Lubbe, wat tans sy honneurs in B.Com. bestuur en bemarking by NWU Pukke doen, het soos baie kolwers ’n paar bygelowe voor hy uitstap om te kolf.
“Ek sit my linkerbeenskut eerste aan en soms dra ek ’n sekere paar kouse. Ek is dan baie gemakliker as ek kolf,” vertel hy grappend.
Tog glo hy dat hy moet leer om rustiger te wees en met enkellopies ook die telbord laat aanskuif.
“Ek moet net leer om rustiger te wees en te leer om nie heeltyd te probeer om die telbord net met viere en sesse aan die gang te hou nie,” meen hy.



