Photo GalleriesSportSportSports Galleries

Volkies breek Gimmies se houvas met 18-17 Classic Clash oorwinning

Dit was soos iets uit ’n droom vir alle Volkies toe hulle eersterugbyspan losskakel Hanru van Rooyen die bal op die Fanie du Toit Sportterrein vanmiddag net na 14:00 uitskop en die eindfluitjie triomfantlik blaas. Almal in rooi, geel en swart skree, spring, juig en omhels mekaar want vir die eerste keer sedert 2011 is …

Dit was soos iets uit ’n droom vir alle Volkies toe hulle eersterugbyspan losskakel Hanru van Rooyen die bal op die Fanie du Toit Sportterrein vanmiddag net na 14:00 uitskop en die eindfluitjie triomfantlik blaas.

FOTO: Dustin Wetdewich
FOTO: Dustin Wetdewich

Almal in rooi, geel en swart skree, spring, juig en omhels mekaar want vir die eerste keer sedert 2011 is Volkies die oorwinnaars in die FNB Classic Clash stryd – en wat ’n stryd was dit nie!

Beide Volkies en Gimmies druk twee drieë met slegs Van Rooyen se strafskop wat die verskil tussen die twee spanne is.

Henry Campher het Volkies se eerste drie gedruk, na ’n puik skop in die gaping deur Van Rooyen waarna Campher eerste op die bal gaan duik het.

Buitesenter, Campher, het Volkies laat juig uit volle bors toe hy vyf minute voor die eindfluitjie weer gaan druk het om Volkies ’n een punt voorsprong te gee.

Volkies omhels vir Henry Campher net na hy die wendrie gedruk het.
Volkies omhels vir Henry Campher net na hy die wendrie gedruk het.

Edrich Cronje was die ster vir Gimmies en het al hulle punte aangeteken met twee drieë onder die pale sowel as twee doelskoppe en een strafskop. Gimmies se stutte Morné Marais en Chris Steyn sowel as haker, Bradley Wood moet geprys word vir hulle fisiekheid en puik skrumwerk in die wedstryd.

Volkies se agtsteman Jandré Steyn het ook ’n baie goeie wedstryd gehad. Volkies se agterlyn het ook amper geen voet verkeerd gesit op die aanval nie, al het hulle soms gesukkel om balbesit te kry.

Al twee rugbyspanne was fisies pootuit, maar die wilskrag om te wen en vas te byt het Volkies daardie ekstra hupstoot aan die einde gegee.

Terloops het Gimmies ’n uitstekende tweede helfte gehad waar hulle baie meer balbesit gehad het, maar nie hulle kanse kon gebruik het in die opposisie se kwartgebied nie. ’n Paar balle is meters voor die lyn aangeslaan en sommige balle kon nie net ’n spanmaat vind nie. Gimmies kon ook nie een punt in die tweede helfte aanteken nie.

Volkies het beslis hulle geleenthede beter gebruik en het met goeie verdediging Gimmies gestuit net toe hulle goed op dreef was – indien Gimmies in daardie 10 minute punte aangeteken het, was dit dalk nou ’n ander storie en het Gimmies vyf in ’n ry gevier.

Nog ’n kernaspek wat die wedstryd na Volkies se kant toe geswaai het, was die skopwerk van Van Rooyen wat die wedstryd beter as sy opposisie losskakel, Eddie Schoeman beheer het.

IMG_7093 (Large)

Vir ’n neutrale kyker was hierdie ’n pragtige stryd wat enige kant toe kon gaan het, maar op die ou einde kan Volkskool se rooi masjien nou met reg kan sê dat hulle die Classic Clash kampioene is.

“Hierdie wen was nie net vir die spelers nie, maar vir die hele skool. Ons is baie trots,” het Dejon Weyers, Volkskool se eerstespanafrigter gesê.

“Ek het dit saam met my broers in die span gewen en ons het soos broers gespeel. Die ondersteuning was ongelooflik. Ek kan nie beskryf hoe bly ek is nie,” het Nic Greyling, kaptein van Volkskool met die beker in sy hand gesê.

Kyk hier vir foto’s van die stryd: (Foto’s: Wouter  Pienaar)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button